Plaaslike verkiesing in ‘n groot gemors

Die ANC se leier is in ‘n verbete stryd gewikkel om sy posisie te behou en die party is besig om in twee te skeur as gevolg van die president se korrupte manewales. Daarby is meeste van die munisipaliteite onder die ANC se bestuur skuldig aan korrupsie, wanbestuur, onbevoegdheid, nepotisme en ‘n totale onvermoë om enige dienslewering te bied, om net ‘n paar probleme te noem. Dit is definitief nie die beste fondasie om ‘n suksesvolle verkiesingsveldtog te veg nie.

Die plaaslike verkiesing moet volgens ons grondwet voor 17 Augustus plaasvind (dis reeds drie maande later in die jaar as die vorige plaaslike verkiesing wat op 18 Mei 2011 was) en die ANC is besig om soos ‘n afkophoender vir tyd te speel. Daarenteen sê die opposisieparty hy is slaggereed en spog vol bravade dat hy ‘n tweede metropool gaan oorneem. (Ironies genoeg Nelson Mandelabaai, oftewel die koloniale Port Elizabeth van weleer.) Onlangs het ‘n groep onafhanklike kandidate in Tlokwe (die ou dae se Potch) ‘n saak in die Konstitusionele Hof aanhangig gemaak oor ‘n tegniese aspek waar die adresse van kiesers bekend moet wees. Die regters moet volgende week besluit of dit hiervolgens moontlik is om ‘n vrye en regverdige verkiesing in Suid-Afrika te kan hou. In alle waarskynlikheid sal dié hof besluit dat die adreskwessie eers teen 2020 in werking moet tree. Dit sal die regering dwing om dan die datum vir die munisipale verkiesings bekend te maak; waarskynlik  die week na die tweede registrasie naweek (9 en 10 April).

Regstegnies het die Tlokwe-saak, wat stil-stil reg onder ons neuse afgespeel het, ‘n veel groter impak op alle plaaslike gemeenskappe in die land as wat op die oog af geblyk het. Die Onafhanklike Verkiesingskomitee (OVK), wat vir twintig jaar op sy “onafhanklikheid” geroem het, het modder in die gesig gekry toe die Verkiesingshof beslis het dat die OVK versuim het om ‘n vorige besluit van die Konstitusionele Hof na te kom, wat beslis het dat kiesers se adresse op kieserslyste aangebring moet word. Om dit eenvoudig op te som: die paar onafhanklike kandidate het die ANC beskuldig dat hulle die tussenverkiesing uitslae gemanipuleer het deur kiesers rond te skuif. Die plaaslike ANC is al vir jare beskuldig dat hulle presies dieselfde gedoen het met die romp-
slompontwikkeling van ‘n laekostebehuisingskema by Sunway, binne ‘n tradisionele DA-wyk in ‘n poging om die gebied oor te neem.

Die tameletjie is dat indien die Konstitusionele Hof beslis dat die plaaslike verkiesings mag voortgaan sonder dat ‘n kieser se adres op die kieserslys geplaas moet word, beteken dit dat die regerende party kiesers tussen wyke kan rondskuif om sodoende die uitslae te manipuleer – iets wat dwars in die krop steek van die land se demokratiese stelsel. Andersom, as die Hof besluit dat die verkiesings nie kan voortgaan voordat daar voorsiening gemaak word vir adresse op kieserslyste nie, wat volgens die OVK eers teen 2020 moontlik is, word die basiese konstitusionele reg om te kan stem van elke Suid-Afrikaanse burger ontneem. Hopelik is daar ‘n paar Salomos op die regsbank.

Wat ook al die Konstitusionele Hof se uitspraak volgende week, dit is nie net ‘n reg nie, maar ook ‘n plig om te stem – soveel te meer op plaaslike vlak. Daar is nog tot volgende naweek kans om seker te maak dat u geregistreer is. Intussen moet ons hoop dat die tameletjie nie oorkook nie.

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

getitadlogo2
Top
Recommended Story
5 things you need to know about Ahmed Kathrada’s funeral