Boer en honde baklei terug teen aanvallers

Gerrit Dercksen (51) kort na die aanval Vrydagaand.

Gerrit Dercksen, ‘n melkboer, was ongeveer 21:00 Vrydagaand saam met ‘n werker in die stalle besig om skoon te maak na hulle gemelk het, toe die drie rowers, gewapen met ‘n vuurwapen en skerpgemaakte ystervoorwerpe hulle oorval het.
“Die mans het my van agter af aangeval en vasgegryp. Ek het die aanvaller se hand met die rewolwer langs my gesien en dit vasgegryp en toe bestorm die ander twee my en begin my met die ysters slaan,” het Dercksen dié week aan Kormorant vertel.
Dercksen se werker het geskree en een van die mans het op hom afgestorm en hom oor die kop geslaan. “Ek het met die aanvaller met die vuurwapen gestoei en dit reggekry om hom teen ‘n muur vas te druk en die vuurwapen in sy rigting te draai. Die ander twee het my herhaaldelik met die ysters geslaan.”
Dercksen en die werker se geskree het veroorsaak dat sowat agt van die familie se 20 honde die stalle binnegestorm het.
“Onder hulle was ‘n Great Dane en boerboele en ek dink die grootte van die honde het hulle laat skrik.” Die aanvallers het laat spaander. Van die ysterwapens is later by die stalle opgetel.
Dercksen se vrou, Anet, en seun, Gene (29), was ten tye van die aanval in die huis en het eers onraad vermoed toe Dercksen skreeuend huis toe gehardloop het. ‘n Sekuriteitsmaatskappy en lede van die veiligheidnetwerk in die omgewing was binne minute op die toneel. Die Hartbeespoort Noodreddingseenheid het Dercksen en sy werker se kopwonde op die toneel behandel. ‘n Man is dieselfde aand in verband met die aanval in hegtenis geneem. Hy het Maandag op ‘n aanklag van poging tot besigheidsroof in die Brits Landroshof verskyn.
Met Kormorant se navraag aan die polisie oor die aanklag van besigheidsroof, is ons meegedeel dat ‘n boerdery as ‘n besigheid volgens die wet beskou word. Op navraag oor waarom klagtes van aanranding en poging tot moord nie ondersoek word nie, was die antwoord dat dit deur die hof bepaal word.
Die aanval volg drie jaar na Derksen se seun, Leander (22), in Maart 2014 wreed op die plaas deur vyf aanvallers vermoor is. Hy was op pad om by bejaarde bure te oornag omdat hulle bang was, toe hy deur rowers oorval, geskiet en in die nek gesteek is. Die aanvallers het met sy bakkie gevlug en sy liggaam is later in die veld gevind.
Twee van die rowers is daarna skuldig bevind en tot lewenslange trokstraf gevonnis. Nog een is tydens ‘n ander plaasaanval in die omgewing doodgeskiet. Die ander is nooit opgespoor nie.

  AUTHOR
Daleen van Manen
Journalist

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

getitadlogo2
Top
Recommended Story
More newbies start school careers