
“As ek vir jou ‘n fliek oor my lewe moet maak, sal jy lekker lag,” sê tannie Nellie du Toit op haar 100ste verjaarsdag in haar sonnige kamer in ‘n versorgingsentrum in Schoemansville.
Maar vandag op 100, voel sy soos die lirieke van die trefferliedjie van Pat en Shirley Boone, Let The Rest Of The World Go By en sy sing dit in haar soet stemmetjie:
“I’ve been wishing today I could just run away
Out where the west winds call
With someone like you, a pal good and true
I’d like to leave it all behind and go and find
Some place that’s known to god alone”
“Ek het ‘n lang lewe gehad en is bietjie moeg,” lag sy. Sy is die afgelope drie jaar ‘n inwoner van Huis Van Velden in Schoemasnville en is nog gesond. Sy is verstommend gesond, drink geen medikasie nie en het op 99 ‘n mastektomie gehad na borskanker gediagnoseer is. “Ek sukkel nou om te loop en dit is nie lekker nie.”
Tannie Nellie is in 1919 in die Vrystaat gebore en na skool het sy vir ‘n paar jaar in Johannesburg gewoon voor sy getroud is en boervrou in die Vrystaat geword het.
“Ons het met beeste, skape, mielies, hawer en koring geboer en ek het my eie hoender- en kalkoenboerdery gehad. Die plaaslewe was lekker. Ek onthou veral al die koffie wat ek gemaak het. Hulle sê mos koffie is boeretroos. Dit het soggens al vroeg begin as my man en die werkers gemelk het. Dan maak ek ‘n groot kan koffie vir ons almal sodat almal krag het vir die dag.”

Oor ‘n tydperk van 100 jaar het daar baie dinge gebeur. “Ek kan nie alles vertel nie. Ek moes ‘n fliek kon maak.”
En hoekom dink sy het sy so oud geword? “Jong, toe my kinders klein was, was ek baie bang ek gaan dood. Ek het geweet my man sou weer trou en dan kry my kinders ‘n stiefma. En ek wou hulle nie vir ‘n ander vrou gee nie. Hulle was myne! En kan jy glo, ons stuur my oudste seun universiteit toe en wat maak hy toe hy klaar is? Hy gaan oorsee!”
Sy wil nie datums onthou nie. “Dis te hartseer. Ek het my man en jongste seun verloor. Maar ek is baie trots op my oudste seun, Giep du Toit wat al 45 jaar in Hartbeespoort woon. Hy het ‘n doktorsgraad in kernfisika. Hy het met atoombomme gewerk!” sê sy verontwaardig. “Hy sal nou maar ‘n atoombom hier langs my moet kom neersit,” glimlag sy.
“Ek het ‘n lekker lewe gehad. Al die mense waarmee ek in aanraking gekom het was lief en goed. Ek het net nie baie kêrels gehad nie. My man het hulle van vroeg af reeds weggejaag tot ek met hom getroud is.”
Haar motto in die lewe? “Maak bymekaar om uit te deel. En onthou yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a gift!”