Misdaadvoos? Kom ons help onsself!

Dit is beslis nie ‘n ‘goeie nuus’ week nie. Vandag se koerant lees so bietjie soos ‘n riller. Daar is die gewapende rooftog by ‘n gewilde supermark, gewelddadige aanvalle tydens motorkapings, vier mense wat in hul winkel geskiet is, gevaarlike misdadigers wat ontsnap en dan boonop fietsryers wat nie eers meer die buitelug kan geniet nie…

Dit is  teneerdrukkend om die minste te sê, en ja, dit maak mens kwaad dat jy nie meer ‘n basiese mensereg, om sonder vrees deur die lewe te gaan, kan geniet nie.  Maar, en dit is ‘n groot MAAR, mens kan jou nie aan die vrees oorgee, of  soos sommige maak ‘n  ‘If you can’t beat them, join them’-houding aanneem nie.

Ons lewe in ‘n toenemend wettelose samelewing. Kyk maar net na padwoede, die blatante verontagsaming van verkeerstekens, mense wat die wet in eie hande neem….

Die vraag ontstaan nou: hoe moet die gemiddelde mens weet wanneer hy deur ‘n polisie- of verkeersbeampte afgetrek word, en wanneer dit dalk ‘n misdadige bende is? Veral aangesien verkeerspolisie selfs in ons gebied in ongemerkte voertuie beweeg, en dit dus moeilik is om  met die eerste oogopslag te sien of jy nie dalk in ‘n strik trap nie, by wyse van spreke.

Dalk moet daar aandag gegee word aan hierdie aspek, wat die Hartbeespoort gemeenskapspolisiëringsforum juis nou besig is om te doen. Die polisie en verkeer sal versoek word om motoriste riglyne te gee oor wat hulle te doen staan sou hulle hul in so ‘n situasie bevind.

Ongelukkig lewe ons in ‘n tyd waarin ons onsself moet beveilig en altyd waaksaam moet wees. Ry nog fiets, gaan stap gerus nog, maar onthou daar is veiligheid in getalle en let op na verdagte persone en gedrag.

Maar so tussen die negatiewe en voor jy heeltemal jou polse afkou, is daar darem een ligpunt. Gemeet aan die res van die land en verskeie soortgelyke dorpe, is Hartbeespoort met sy groot gebied en min polisielede steeds betreklik veilig en  toon statistieke dat ons pro rata nog relatief lig daarvan afkom.

Kom ons vat almal hande en word deel van die oplossing deur aktief te wees in die GPF en buurtwagstrukture en kriminele te wys wie is baas.

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Most Venomous Day of the Year