Madibeng se finansiële tsoenami

Die grootste gedeelte van Brits word deur Eskom van krag voorsien, maar Madibeng behartig die rekeninge. Madibeng skuld Eskom meer as R20 miljoen en Eskom het gedreig om Madibeng onder verpligte beurtkrag te plaas. Die munisipa-liteit het beloof om teen die einde van die maand die uitstaande skuld te betaal. Geen bevestiging kon verkry word dat die betaling wel gedoen was nie. Hartbeespoort word deur Tshwane van krag voorsien, maar soos in Brits se geval, behartig Madibeng die rekeninge. Madibeng skuld Tshwane meer as R9 miljoen, waarvan R2 miljoen agterstallig was. Maandag het Tshwane die kragtoevoer na Hartbeespoort gesny en amptenare moes vir twee ure rondskarrel om reëlings vir die heraansluiting te tref. Dit is onduidelik hoekom die munisipale bestuurder R4 miljoen aan Tshwane oorbetaal het. Tshwane het slegs R2 miljoen vereis om die krag weer aan te sit. Die situasie het vererger toe dit die week aan die lig gekom het dat Madibeng ook vir Rand Water, wat dele van Melodie, Ifafi en Meerhof van water voorsien, meer as R6 miljoen skuld. Rand Water dreig dat hulle die krane na die gebiede teen Maandag gaan begin toedraai indien die skuld nie betaal is nie.

Maar wag, daar is meer, soos die doemprofete altyd sê. Madibeng se geldkoffers is leeg. Ingeligtes in die doolhof van die munisipale kantore in Van Veldenstraat beweer dat daar nie eers genoeg fondse is om amptenare, werkers en raadslede teen maandeinde te kan betaal nie.

Daar word naarstiglik agter die skerms gespook om alle skuld van Madibeng onder die beheer van die Nasionale Tesourie te plaas. Dit sal hopelik verdere geleenthede soos die afsny van elektrisiteit en water deur buite-instansies voorkom. Maar dit is bloot korttermyn krisisbeheer. Madibeng het weereens die week bewys dat  die munisipaliteit onbevoeg, ongekwalifiseer en onwillig is om die gemeenskap te dien en dat daar geen benul van dienslewering is nie.

Die minister van finansies, Pravin Gordhan, het Woensdag tydens sy opening in die begrotingsrede gesê die regering moet bedrog en wanbesteding uitroei as hulle enigsins op ‘n finansiële vlak kan voortbestaan.

Dit sal ‘n goeie idee wees as daar by Madibeng begin word.

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boer sterf na plaasaanval