Man se oor tydens hoewe-aanval afgesny

‘n Ses-en-sestigjarige man se oor is afgesny toe hy Dinsdag in die vroeë oggendure deur twee rowers op ‘n hoewe in Hartbeespoort aangeval is. Hy het na die aanval nog sowat vyf ure hulpeloos gelê tot sy werkgewer onraad vermoed het en hom in ‘n bebloede toestand in sy huis aangetref het.

Johan du Plessis het ongeveer 02:30 Dinsdagoggend in sy huis op die hoewe wakker geskrik en twee mans met ‘n selfoonflits in sy kamer gesien.

“Hulle het hom gegryp en op sy maag gedwing waarna hulle sy hande met ‘nylon-tou agter sy rug vasgebind het. Volgens wat hy kan onthou, het hulle vir geld en wapens gevra. Hy is van die bed af geruk en op die vloer gegooi waarna die twee rowers hom aangerand het. Hulle het sy oor met ‘n mes afgesny en hom herhaaldelik in die rug, ribbes en kop geskop. Hulle het geld uit sy broeksak gehaal en die huis geplunder,” het Jennie Hattingh van Plotwag in Rietfontein gesê.

Die rowers het vier vuurwapens uit die kluis gevat en met Du Plessis se selfoon, ‘n vrieskas en ander besittings gevlug.

“Volgens oom Johan kon hy daarin slaag om sy hande los te wikkel en sy matras terug op die bed te trek sodat hy kan lê. Hy was te erg beseer om hulp te gaan soek.”

Sy werkgewer het vroegoggend onraad vermoed en is na die hoewe om ondersoek in te stel. Die agterdeur van die huis was oopgebreek en hy het Du Plessis in sy kamer gevind. Hattingh, ‘n paramedikus en plotwaglid, is onmiddellik na die toneel waar sy noodhulp toegepas het tot ‘n ambulans opgedaag het. “Ons het die stuk oor op die toneel gevind, maar dit was te laat om dit te red vir moontlike hegting.”

Du Plessis is in ‘n bestrendige toestand in die hospitaal.

Die Hartbeespoort polisie en honde-eenheid was vroegoggend op die toneel en het twee gewere by die hoewe se heining teruggevind. Die huisroof word ondersoek.