KYK: De Wildt man duik luislang!

‘n De Wildt-inwoner is Saterdag ‘n paar keer gebyt en moes uiteindelik ‘n 4 meter luislang duik gedurende ‘n poging om die slang te vang en te beveilig.


Kobus Pieterse (62), ‘n De Wildt-inwoner en slanghanteerder wat by die African Snakebite Institute geregistreer is, word gereeld in die De Wildt- en Pretoria-Noord-omgewing uitgeroep om slange by wonings te verwyder, maar dit is min dat hy hom in so ‘n bielie vasloop.

“Ek is deur die Zilkaats Estate ontbied na werkers die massiewe luislang naby hul huise opgemerk het. Omdat daar kinders en diere op die perseel is, het hulle gevoel die slang hou ‘n gevaar in. Toe ek daar kom was die slang alreeds kwaad. So ‘n slang kan tot 1.5 m na ‘n persoon duik om te byt. Ek was op pad om hom agter die kop te gryp toe hy omdraai en begin wegseil. Ek het hom geduik en aan die stert beetgekry. Toe draai hy om en byt eers na my seun en toe kry hy my beet,” lag Kobus.

Die luislang het hom in die been en arm gebyt en toe boonop Kobus se voete onder hom uitgeslaan. Gedurende die onderonsie kon Kobus die slang agter die kop beetkry en in ‘n groot asblik plaas.
“Dit is ‘n indrukwekkende dier en dit is ‘n voorreg om so grote hier te sien.”
Die luislang is kort daarna weer in die Magaliesberg in die De Wildt-omgewing vrygelaat.