Brits: Vuil en geen water te midde van Corona-krisis

Brits se water is sedert Dinsdag vuil met ‘n onaangename reuk en volgens inwoners nie geskik vir menslike gebruik nie.

Dit, te midde van die Coronavirus-krisis en die regering se waarskuwings oor higiëne, het Brits-inwoners warm onder die kraag.

“Almal gaan op hol oor die virus, oor hande was en koop die winkels leeg van skoonmaakmiddels, maar dis hoe ons water lyk?” was een van vele woedende reaksies oor die vuil, stinkende water in Brits.

“Hoe moet mens skoon wees as jou water nie eers skoon is nie?”
Die Madibeng munisipaliteit het Dinsdag in ‘n verklaring gesê die Brits se watersuiweringsaanleg het tydelik tot stilstand gekom vir dringende onderhoudwerk om alge uit die sandfiltrasiesisteem te verwyder.

“Die algeblokkasie onderbreek watersuiwering by die aanleg en die munisipaliteit hoop om die werk nog later vandag (Dinsdag) te voltooi. Party gebiede het reeds watertekorte as gevolg hiervan,” het die munisipale woordvoerder, Tumelo Tshabalala, gesê.

Woensdagoggend was die water steedvuil. Die munisipaliteit het onderneem om terugvoer te gee, maar teen druktyd het Kormorant nog gewag op hul antwoord.