Cyril was manjifiek, nou moet ons almal ons kant bring

Vrye Weekblad, die weeklikse Afrikaanse webtydskrif, het die nuusbrief gepubliseer na die Staatspresident se toespraak Maandagaand. Vrye Weekblad het ons goedgunstiglik toestemming gegee om dit te deel.

Goeiedag

Ons sit op die stoep en wag vir Sirrel om te praat.

Toe die president begin, gryp my man my hand oor die tafel (die foon waarop ons kyk staan teen ‘n blompot in die middel) en hou dit so styf vas dat ek wonder of daar ‘n bloedsomloop-probleem gaan wees. Dit is ‘n wending in ons land; waarskynlik een van die belangrikste – indien nie dié belangrikste nie – toesprake deur ‘n politieke leier in Suid-Afrika sedert 1994. Miskien in ons hele geskiedenis.

En mense regoor ons land luister na dieselfde woorde – van sjebeens tot op my voorstoep hier in Oos-Londen – van voorkamers in die Karoo tot om kombuistafels in die Kaapse Vlakte. Dit laat my amper huil, want wanneer laas was ons so afhanklik van mekaar? Ons is almal bang. Ons weet nie wat om te verwag nie, en ons soek ‘n leier. En Cyril doen wat ons almal hoop hy doen. Hy word ons Churchill. Op die oomblik wat ons dit die nodigste het.

Die drie weke van nasionale inperking gaan groot, groot opoffering verg van ons almal; baie van wie reeds raap en skraap en skarrel om hier en daar ‘n ou geldjie te maak. 

Maar saam met die pyn in my hand en die kommerkol op my maag voel ek ook trots. Die aankondiging is dringend, duidelik, gegrond op wetenskap en presidensieel. Dit is ook vol empatie, met die klem op die weerlose mense in ons unieke samelewing. Dankie tog dit is Sirrel wat nou in beheer van sake is, sê ‘n kollega op whatsapp. Inderdaad. 

Ek is, soos elkeen van ons, bekommerd oor die impak op die ekonomie. Die maatreëls gaan ons lewens op elke moontlike manier raak. Maar ek dink hy het geen ander keuse gehad nie.

Dit gaan jare vat om te weet wat die impak van hierdie besluit is – en ons sal waarskynlik nooit weet wat sou gebeur het as die president nie hierdie weg gevolg het nie. Ek dink nie ons sou wou uitvind nie.

‘n Land is sy mense. Ons kan net saam hierdeur. En dit gaan beteken dat dié van ons wat meer het, sal moet help om te las vir dié wat minder het.

Ek weet ons kan. Want ons is ‘n anner klomp. As die nood druk, kom ons bymekaar.

Groetnis,

Anneliese Burgess en die res van die Vrye Weekblad-span www.vryeweekblad.com