Gestremde dogter glo in puttoilet, hondehok aangehou

‘n Verstandelike gestremde vrou (38) wat in Kameeldrift-Wes, Hartbeespoort deur haar ma en stiefpa in ‘n puttoilet aangehou is, is Saterdag deur lede van ‘n veiligheidsmaatskappy en ‘n lid van die Tshwane metropolisie uit die snikhete sinkgeboutjie gered.


Volgens Chris Degenaar, mede-eienaar van K-9 Tactical, het ‘n bekommerde werker Saterdag vir ‘n buurman vertel van die meisie wat op ‘n hoewe in ‘n puttoilet en ook hondehok toegesluit word.

“Van ons lede is saam met ‘n lid van die Tshwane Metropolisie se taakspan na die perseel waar hulle gille gehoor het. Die hek was gesluit en die lede het oor die muur gespring,” sê Degenaar.

Die gille het vanuit die sink-puttoilet gekom . Die deur was gesluit en een van die lede het die slot afgeslaan.

“Die dogter was net in ‘n bra en langbroek geklee en was erg gedehidreerd. Sy was verskrik en senuagtig en toe die lede vir haar sê sy is veilig, is sy na die wasgoedlyn waar sy klere begin afhaal en opvou het,” sê Degenaar.

Die ma (66) en stiefpa (88) was op die toneel en het glo beweer dat die dogter onbeheerbaar is.

“ ‘n Ambulans is ontbied en die dogter is na ‘n hospitaal geneem waar sy behandel is, voor sy in die sorg van ‘n plek van veiligheid ontslaan is.

“Volgens inligting wat ons ontvang het, word die dogter al vir die afgelope drie jaar so behandel.”

Die ma en stiefpa is op aanklagte van poging tot moord in hegtenis geneem. Hulle het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn en is op R1 000 elk borgtog vrygelaat. Hul name word nie bekend gemaak nie om die dogter se identiteit te beskerm.