Werner hardloop Om die Dam om die huis

Werner Nagel

Die komende naweek sou organiseerders van die jaarlikse Om die Dam ultramarathon hul beurt gekry het om die ultramarathon te hardloop, maar die onverwagte inperking het die gebeurtenis in die wiele gery.

Een van dié deelnemers, bekende Hartbeespoort atleet en sakeman, Werner Nagel, het hom egter nie nie laat stuit nie. Hy het besluit om op die 12de dag van inperking, Dinsdag, 7 April, die 50 km ultramarathon om sy huis te voltooi!

Dit beteken 1000 rondtes van 50 meter om sy huis, met ‘n skerp draai so elke 7 meter. “Ek is seker een of ander knie gaan seerkry met die skerp draaie. Ek trek net weg dan moet ek weer stop om te draai,” het hy Maandag kort voor die resies gelag. “En ek gaan dit beslis nie in my gewone tyd doen nie. Ek skat ek sal so nege ure hardloop!”

Hy was van plan om 04:00 weg te spring. “Ek het egter dié week gesien 04:00 is bietjie koud, so die wegpringtyd het 05:00 geword,” het hy gespot. En hy gaan dit stoksielalleen doen, sonder aanmoediging of ‘n waterpunt. “Hier woon ‘n paramedikus van ‘n ambulansdiens net ‘n ent af in die straat. Ek sal dalk maar vra dat hy net so elke nou en dan oor die heining loer om te sien of ek nog verbykom.”

Kyk videos hier: Watch: Running an Om Die Dam in your backyard

Hy het selfs vir hom ‘n wenstreep met al die tooisels gebou. Net jammer niemand gaan ‘n lint vashou om te breek nie!

En wat op aarde het hom gemotiveer om dié Om die Dam om die huis aan te pak. “Jong, die inperking vang my nou. Ek is ‘n aktiewe besige mens en ek het baie uitgesien na ons Om die Dam die naweek en dit was ‘n groot teleurstelling toe dit afgestel is. Ek het besluit om voort te gaan.”

Hy het probeer om van sy medelede van die Hartbeespoort marathonklub te oorreed om saam te hardloop, maar niemand wou byt nie.

“Dit wys jou nou net, maak nie saak waar jy my sit nie, self in inperking neem ek nog steeds die verkeerde besluite,” het hy gelag.

Kormorant sal die gemeenskap op hoogte hou van Werner se unieke Om die Dam wat beslis in die Guiness wêreldrekord hoort.