Kyk na jou geestesgesondheid tydens die Covid-19-inperking

Suid-Afrika is in sy derde week van inperking om Covid-19 te bestry en baie mense voel tans onseker, rusteloos en alleen.

“Terwyl hierdie gevoelens heeltemal verstaanbaar is, is dit belangrik dat almal – veral dié wat geneig is tot geestesgesondheidsprobleme – leer om die bykomende stress te hanteer,” sê Paul Miller van Cipla Medpro. Suid-Afrikaners behoort ook nie net na hul eie geestesgesondheid om te sien nie, maar ook seker maak dat familie en vriende dieselfde doen.

Miller sê gesondheidswerkers se werk is tans uiters stresvol en dit is belangrik om vir versorgers om te gee. “Gesondheidswerkers is in die voorlinie in die geveg teen die pandemie, en in ‘n land waar daar ‘n tekort aan mediese kundiges is, kan dié werkers deur stres oorweldig word en uitbrand. Hierdie is ongekende tye en mense reageer op verskillende maniere. Dit is belangrik dat mense wat meer gespanne, depessief of angstig as gewoonlik voel, weet dat daar maniere is om dit te hanteer, én dat daar hulp is.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beklemtoon die belang van geestes- en fisieke gesondheid tydens the Covid-19 pandemie. “Hierdie is nie net ‘n resies nie, dit is ‘n marathon.”

Die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) bied hulpbronne om mense by te staan tydens die inperking. Hier is ‘n paar wenke om stres te verminder:

• Hou by ‘n daaglikse roetine

• Beperk media- and sosiale mediadekking oor die pandemie om te voorkom dat die situasie te oorweldigend raak. Bekom slegs inligting van betroubare nuusbronne.

• Erken jou gevoelens en fokus op dinge wat jy kan beheer.

• Kry iets om jou mee besig te hou – konstruktief of kreatief – om jou gemoedstoestand te verbeter.

• Indien jy op medikasie is, onthou om dit te neem soos voorgeskryf.

As jy hulp nodig het, kontak die Cipla SADAG 24-uur helplyn by 0800 456 789 of WhatsApp 076 882 2775 tussen 09:00 en 17:00.