Ouers wat onderwyser speel: “Waar kry mens Job se geduld?”

Rainr Voigt (7) by sy ‘swartbord’ in die tuin.

“Iemand word ‘n onderwyser gebore, jy kan nie een word nie.” Dit blyk meeste ouer, wat nou onderwyser moet speel, se moedelose mening te wees.

Ouers is oornag, sedert the Covid-19 inperking aangekondig is, in die rol van onderwyser gedompel en dit is beslis nie ‘n maklike taak nie. Inteendeel, in die meeste gevalle sukkel ouers om dié rol saam met dié van broodwinner, ouer, en nou boonop nog “skoonmaker”, te kombineer. En hulle kom met allerlei kreatiewe idees te vore om die taak te vergemaklik. Kormorant het by ‘n paar gaan hoor hoe dit gaan.

“Dit plaas baie stres op huishoudings”
“Ek weet nie waar kry onderwysers die geduld vandaan nie. Dit is vir my regtig baie moeilik. My kinders kla ek is te kwaai. Ek dink ek doen my kind meer kwaad aan as wat ek help,” sê Renay Venter van Schoemansville wat ‘n sewejarige dogtertjie, Mia, in Graad 1 en ‘n driejarige seuntjie, Xander, in kleuterskool het.

KYK: Graaad eentjie se gebed oor koronavirus en die Springbokke

“Sorg dat die Koronavirus doodgaan en sorg dat die Springbokke wen,” bid die sewejarige Rainer Voigt, ‘n Graad 1-leerder van Laerskool Generaal Hendrik Schoeman op sy klas se WhatsApp-groepie voor die leerders met hul dag se skooltake begin. Dié mannetjie se prioriteite is beslis reg! Dié skool se leerders kry daagliks ‘n aantal videos van onderwysers met lesse wat hulle  tuis kan doen en leerders word uitgenooi om vir mede-leerders ‘n gebedjie op te sê.

“Ons ontvang sowat nege videos vanaf die skool elke dag en ek moet saam sit en leer. Ons het werksboeke gekry en ek hoop net nie dit word na die tyd gemerk nie! Dit is so slordig!”
Maar nood laat mens kreatiewe planne maak. Renay het haar sitkamervenster in ‘n ‘swartbord’ verander. Ek het agtergekom as ek vir Mia die ‘bord’ gee om haar huiswerk op te doen, gebeur dit met minder wrywing.” Sy meen vir ouers met ouer kinders is dit dalk makliker.

Wat dit verder moeilik maak, is dat Renay en haar man steeds voltyds van die huis af werk. “En ek moet huis skoonmaak, kosmaak en mamma wees. Ek kan een ding sê: hierdie tuisonderrig plaas baie stres op ‘n huishouding.”

“Ek kan nie wag dat die skole heropen nie!”
Riëtte Hannemann het ‘n dogter Mikayla in Graad 1, en ‘n seun, Daniel in Graad 3, sowel as die tweejarige Evan wat alle moontlike beplanning in die wiele ry. “Kyk, ek het voorheen onderwys gegee en hierdie situasie is hoekom ek die onderwys verlaat het…. Dit is verskriklik. As dit net die twee oudstes was sou dit makliker gewees het, maar met ‘n tweejarige wat deurentyd aandag wil hê is dit baie moeilik. Ons het die speelkamer as klaskamer ingerig met ‘n plek vir Evan om te speel, maar dit help niks,” sê Riëtte.

Dié mamma het ook kreatief geraak. “Ons speel baie bordspeletjies wat hulle met wiskunde en Afrikaans help. Enigiets om dit makliker te maak.”

“Ek is keelvol vir lockdown. En as ek op sosiale media sien hoe goed ander gesinne doen met die skoolhou-ding en die oulike projekte, wonder ek wat is fout met my. Hierdie is ‘n hengse uitdaging en ek kan nie wag dat die skole heropen nie!”

Mia Venter (7) hou skool op die sitkamervenster.

“Die lekkerste is naweke as daar nie skool is nie”
Melanie Voigt, ma van Karli in Graad 3 en Rainer in Graad 1, stem saam dit is ‘n reuse uitdaging. “Die eerste twee weke, voor die skool vir ons daaglikse videos gestuur het, was dit nag. Ek het nie geweet hoe om dit te doen nie. Toe die videos kom het ek skielik besef mens moet op die kind se vlak kom. Nou sien ek hoe die onderwysers met die kinders praat. Ek probeer, maar mens bly maar ma,” lag sy. Melanie en haar man werk ook van die huis af. “Die videos help baie, maar die huis en die skottelgoed kom nie skoon nie en die werkeise is hoog. Die lekkerste is naweke as daar geen skool is nie!”

“Waar kom al die geduld vandaan?”
Vir ouma Elmarie Joubert, wat onderwyser vir twee kleingoed speel terwyl hul ouers werk, het die beroep van onderwyser ‘n nuwe betekenis aangeneem. Sy hou skool vir ‘n Graad 1 en driejarige kleuter. “Voor die skool videos gestuur het, was dit nag. Ek het nie geweet waar om te begin nie. ‘Sit, lees en bly stil!’ was my standaard reaksie. Ek het gou agtergekom dit werk nie so nie. Saans was ek so opgeklits dat ek nie kon slaap nie. Dan voel ek sleg oor ek so geraas het en omdat ek so goor ouma is.”

Nou gaan dit beter, sê sy. ‘Daar is meer struktuur en ons probeer by ‘n roetine hou. As ek die dag baie geld het, betaal ek vir elke onderwyser van my twee kleinkinders om elke maand vir ‘n dag in ‘n spa te spandeer. Ek het massiewe respek vir onderwysers gekry. Waar kom al die geduld vandaan?”

“My kinders wil nie terug skool toe nie…”
Een ma met wie Kormorant gepraat het is egter in haar element. Marlize Rademeyer geniet die tyd en die tuisonderrig saam met Kayli in Graad 1 en Abby in Graad 9. Ek werk nie en geniet die tyd saam met my kinders en hulle is dol daaroor. Abby wil nie terug skool toe nie,” lag Marlize.

“Abby doen haar eie werk en Kayli mis skool, maar ons kom goed reg met die lesse. Ek dink ons is ‘n gelukkige gesin in dié opsig, maar ek weet daar is baie mense wat onder groot spanning is. Ek is so beïndruk met die skole en die leerprogram wat ons daagliks ontvang. Die kinders vind dit interressant en Kayli is opgewonde om haar werk te doen. Ons is baie bevoorreg in dié opsig. Vir my is hierdie ‘n spesiale tyd.”