Kubaanse dokters ook in Brits

Die groep Kubaanse dokters wat in Noordwes werksaam sal wees.

Twee van die 217 Kubaanse dokters wat die begin van die maand in Suid-Afrika aangekom het om Suid-Afrikaanse medici met die Covid-19 pandemie by te staan, werk in Madibeng. Hulle het Maandag by die Brits Distrik-hospitaal aangemeld.

Altesaam 13 Kubaanse dokters is in die Noordwes ontplooi waar tans 70 Covid-19-gevalle bevestig is. Agt-en-twintig gevalle het reeds herstel. Een person het gesterf.

Die Noordwes gesondheidsdepartment sê die dokters sal in vier distrikte in die provinsie ontplooi word. Madoda Sambatha, lid van die uitvoerende komitee van die department, het gesê hy wil dit duidelik maak dat die Kubaanse dokters niemand se werk sal “kaap” nie, en dat hulle hand-aan-hand met die provinsie se gesondheidswerkers sal werk.

Intussen het die groep Kubaanse dokters onderneem om saam met Suid-Afrika se medici te werk om die pandemie te takel. Die dokters sal nie net met Covid-19-gevalle help nie, maar ook gesondheidpraktisyns met ander mediese sorg bystaan.

Die Bojanala-distrik, waaronder Madibeng val, het die hoogste aantal Covid-19 gevalle. Uit die 40 bevestigde gevalle, is 23 in Rustenburg en 13 in Madibeng.