Inperking keer nie Dozi se nuutste album nie

Bekende Hartbeespoort-musikant, Dozi, sal beslis die bekendstelling van sy nuutste album, Vrede, onthou, want dit is tydens die Covid-19-inperking, ‘n krisistyd vir musikante, vrygestel.

Na hy homself vir die afgelope paar jaar daarop toegespits het om vir ander kunstenaars die geleentheid te gee om hulle werk met gehore te deel by sy restaurant en kuierplek, Dozi’s Back to the Roots, het hy besluit om vanjaar weer op sy eie musiek te fokus en aanhangers te verras met ‘n splinternuwe album getiteld Vrede, wat beloof om ‘n nuwe kant van Dozi se musiek te laat hoor.

Die eerste enkelsnit, Partykeer Somtyds, het radiostasies landswyd op 15 Mei getref en daar word reeds voorspel dat dit ‘n groot treffer onder luisteraars gaan wees. Die liedjie is geskryf deur die talentvolle liedjieskrywer, Stef Kruger en gaan daaroor dat niemand van ons eintlik beheer het oor ons lewens nie en alles net genade is.

“Dit gaan oor seisoene, die hele lewe gaan oor seisoene en dit gaan so gou verby en dan partykeer maak die hemel oop en gee vir ons reën en dit kom alles net weer terug na genade toe”, sê Dozi oor die lied.

Die nuwe album is vanaf einde Mei op alle digitale platforms beskikbaar.Hierdie akoestiese-verwerking gaan voortbou op die wenresep waarvoor dié sanger oor die jare bekendheid verwerf het, maar ook ‘n splinternuwe kant van sy musiek vir die publiek wys. Die album spog met twaalf oorspronklike snitte, waarvan Dozi drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep en, volgens die sanger, was dit vir hom so lekker om weer saam met hierdie begaafde liedjieskrywer te werk. Die inhoud kan hoofsaaklik beskryf word as ‘n kombinasie van dieper dinkmusiek, wat hier en daar afgewissel word met ‘n ligter dansnommertjie.

“Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak. Musikante is dissipels van die wêreld en dis hulle werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter,” sê Dozi.

“Dit is sy beste nog,” sê Gizela Arndt van Starburst Promotions.

Die bekendstelling van Vrede gaan ook gevier word met ‘n spesiale aanlyn-konsert op 27 Junie. Publiek kan gerus www.wallfly.co.za, en Dozi se sosiale media bladsye dophou vir meer inligting wat binnekort bekendgemaak sal word.