Jong gesin verloor alles toe huis afbrand

‘n Jong gesin van vier is in sak en as na hul huis vroeg Donderdoggend by Roodekopjes afgebrand het.

Die Nel gesin

Minke (23) en Barry (28) Nel kon net betyds daarin slaag om met hul 9-maande-oue baba en tweejarige dogtertjie uit die vlamme te ontsnap.

Die Nels se houthuis het vlam gevat na ‘n brand in ‘n nabygeleë huis ontstaan het. “Ek het so ongeveer 03:00 wakker geword van rook. Ek het opgestaan en buite toe gekyk en net die verskriklike vlamme gesien. En skielik was die vlamme in ons huis ook. Ek het vir my man en ma gekree en my baba gegryp en ons het na buite gehardloop. Al wat ek uit die huis gevat het was my baba se bottel,” het Minke vertel.

Die gesin moes kaalvoet, en in hul slaapklere in die koue toekyk hoe hul huis met al hul besittings afbrand. “Daar is niks oor nie. Ons het net die slaapklere aan ons lywe gehad. Ons het nie tyd gehad om enigiets anders te vat nie. Ons lewens was op die spel. Ek is net so ontsettend bly ek het wakker geword en dat ons almal veilig kon ontsnap. Niemand het ons kom wakker maak toe die bure se huis begin brand het nie. Ek wil nie eers daaraan dink wat sou gebeur het as die rook my nie wakker gemaak het nie.”

Die bure se huis, waar die brand ontstaan het, is ook in die brand verwoes. Die familie van ses is veilig. Die oorsaak van die brand word ondersoek. Kormorant het verneem dat ‘n saak van brandstigting by die polisie geopen is.

Die Nel-egpaar en hul twee dogtertjies is nou haweloos. “Ons het albei ons werk tydens die Covid-19-inperking verloor. Ons het die afgelope nagte by my skoonouers geslaap. On  weet nie waarheen nou nie…”

Lede van die publiek wat huishoudelike items en klere het om vir die gesin te skenk, kan die welsynsorganisasie, Soetdoring Geleentheidfonds, kontak by 064 664 2060.