Brits en Hartbeespoort skole deur Covid-19 getref

Hoërskool Brits het Maandag, 13 Julie, gesluit na ‘n leerling positief vir Covid-19 getoets is. ‘n Werknemer by Meerhofskool in Hartbeespoort is ook positief vir Covid-19 getoets en die skool is Maandag gesaniteer.

Hoërskool Brits is Maandagoggend in kennis gestel dat ‘n Graad 12-leerling Covid-19 het. “Die skool is onmiddellik gesluit en ons het al die prosedure gevolg soos deur die Covid-19-regulasies en onderwysdepartement voorgeskryf. Almal in die skool wat met die leerling in kontak was, is in selfisolasie,” het die hoof, Hardus du Plessis, gesê

“Die skool word nou deur ‘n maatskappy gesaniteer en ons hoop om Maandag, 20 Julie, weer oop te wees. Ons gebede gaan uit na al die siek kinders en onderwysers. Die skool doen sy bes om alle reëls en regulasies, soos voorgeskryf, na te kom om Covid-19 te bekamp.”

Die hoof van Meerhofskool, Kobus van der Merwe, het Maandag bevestig dat ‘n werknemer positief vir Covid-19 getoets is. “Die werknemer was slegs met een onderwyser in aanraking en glad nie met enige kinders nie. Die Graad 2-onderwyser was ook nie met die leerlinge in kontak nie. Die werknemer en onderwyser is albei in selfisolasie,” het hy gesê.

“Na samesprekings met die onderwys- en gesondheidsdepartemente is daar besluit dat dit nie nodig is om die skool te sluit nie. Die skoolperseel is Maandag gesaniteer.”

Sien ook: Hartbeespoort police station closed after police members test positive