Afriforum vervang rioolinfrastruktuur na riool erwe oorstroom

Na rou riool weke lank inwoners in in die Sonop-gebied se erwe oorstroom het en die Madibeng-munisipaliteit nie enige poging aangewend het om dit aan te spreek nie, het Afriforum in Brits se Covid-19-taakspan dié week die rioolpyplyn herstel.

Riool het die afgelope weke in die strate afgevloei en inwoners se eiendom oorstroom. Slote moes gegrawe word om te voorkom dat die riool in die huise spoel.

“’n Rioollyn naby die Sonstraaltjie Kleuterskool was beskadig en verstop en het die probleem veroorsaak. Die tak het sowat R4 500 bestee om die infrastruktuur te vervang,” het Petrus Coetzee van Afriforum gesê.

“Die riool wat in die strate gevloei het, het ‘n geweldige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap ingehou. Die rioollek só naby aan ‘n kleuterskool het die situasie nog meer krities gemaak en daarom het AfriForum besluit om die gemeenskap met die herstelwerk te help. Ons sal nie huiwer om dienste te lewer daar waar die munisipaliteit misluk nie.”