Red ons voëlpark

Skenk ‘n blik verf, ‘n sakkie sement of selfs sardientjies… en help Hartbeespoort se Makalni Voëlpark om sy deure oop te hou.

Greg Strydom van Makalani Voëlpark

‘n Groep Hartbeespoort-inwoners het die afgelope week bymekaar gekom om die voëlpark, wat sedert die inperking die afgelope 120 dae nog geen inkomste verdien het nie, in dié moeilike tyd by te staan. Toerisme is die park en ander diereparke se enigste inkomste.

“Ons het gehoor van die voëlpark se nood en ‘n klein groepie van ons het koppe bymekaar gesit om te help om ‘n inkomste te genereer. Ons het besluit om ‘n teetuin en pizza-oond op die perseel te open om die park op die been te hou tot die inperking opgehef word,” sê Olga Henning, wat die projek tans bestuur.

‘n Onlangse roerende video deur Pierre & Pauli Produksies, oor die park en die inwoners se pogings om die park te red, het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei en meer inwoners het na vore gekom om hulp aan te bied.

“Ons is besig om ‘n kombuisie en pizza-oond te bou, plaveisel te lê, draad te span en die terrein mooi te maak. Ons wil ‘n rustige eetplekkie en wegkomplek skep vir inwoners en besoekers en so die park help om te bly voortbestaan. Ons vra vir skenkings van enigiets wat in ‘n kombuis hoort soos wasbak, kombuiskaste, teëls, krane, yskas, stoele en tafels of hout om bankies te bou, borde, glase, eetgerei ens.”

Die Makalani Voëlpark is net so deel van Hartbeespoort se geskiedenis soos die damwal en elke bydrae sal verwelkom word.

Die volgende word benodig: sement, verf, kwaste, gras, ligte, elektriese draad en ander boumateriaal.

En natuurlik kos vir die diere – enigiets vanaf sardientjies, rotte, voëlsaad, mielies, sonneblomsaad en groente en vrugte.

“Ons nooi die gemeenskap uit om ons te kom help om die park en die diere aan die lewe te hou.”

Vir meer inligting kontak Olga by 074 664 6655.

Skenkings kan inbetaal word in Makalani Voëlpark se bankrekening: Nedbank tjekrekening 1876009551, takkode 187646.