Bosbokke by Meerhofoewer deur honde verskeur

Drie Bosbokke is Maandagnag by die Meerhofoewer deur honde verskeur en doodgebyt en die polisie ondersoek nou sake van die aanhou van aggressiewe honde en saakbeskadiging.

Die honde behoort glo aan inwoners wat by die Meerhofskool se werknemersbehuising op die skoolperseel woon en volgens Clem Pretorius, eienaar van Meerhofoewer, het hy die afgelope ses jaar ongeveer 50 diere op die Meerhofoewerperseel verloor weens die honde wat die wild aanval.

“Ek het reeds ‘n horde sake by die polisie aangemeld en niks het daarvan gekom nie. Klagtes is ook by die Meerhofskool ingedien. Vier-en-dertig blesbokke, ses volstruise, ander wild en selfs ‘n mak duidertjie is by my kantoor deur die honde doodgebyt,” het hy Dinsdag gesê. “Ek het al 400 m heining vervang na die honde dit beskadig het. Ek wil huil. Dit is ‘n slagting. Ons is lief vir die diere.”

Die honde ontsnap skynbaar uit ‘n hek van die werkersbehuising wat oopgelos word en grawe dan onderdeur die heining van die Meerhofoewer.

Meerhofskool se hoof, Kobus van der Merwe, het aan Kormorant gesê dat die skool reeds geruime tyd met die werknemers se onderskeie unies onderhandel om die hek, wat na die pad lei,  permanent te sluit. “Na die laaste voorval is daar egter ‘n besluit geneem om die hek permanent toe te maak en werknemers sal voortaan deur die skoolgronde tot by die behuising moet beweeg. Daar is tans sewe honde op die werkers se perseel en hulle sal nou opdrag kry om ses van die honde te verwyder,” het Van der Merwe gesê.

Die Hartbeespoort polisie ondersoek die saak.