Madibeng se voertuie ‘afgeskakel’ weens wanbetaling

Die Madibeng-munisipaliteit kan tans geen munisipale dienste, waarvoor voertuie gebruik word, lewer nie omdat die hele munisipale vloot voertuie elektronies geïmmobiliseer is deur die maatskappy van wie dit gehuur word.


“Die hele vloot is elektronies geïmmobiliseer omdat die munisipaliteit nie die maandelikse huur van R9 miljoen aan die diensverskaffer betaal het nie,” het VF+-raadslid, Elsa Lourens, gesê.
Die Madibeng-munisipaliteit huur die vloot voertuie van BertoBrite.
“Madibeng huur die voertuie met geen opsie om te koop nie want dit is makliker om te knoei met ‘n tender as met ‘n voertuigkooptransaksie,” het Lourens gesê.
“Ons plaas deurgaans druk op Madibeng om hul voertuie te koop. Met die huurbedrag van R9 miljoen per maand oor ‘n tydperk van drie jaar, sou daar genoeg geld gewees het om die voertuie te koop, in stand te hou, en sommer nog slaggate op Hartbeespoort en Brits se paaie te herstel.
Volgens Lourens was die voertuie ook twee weke gelede “gestal” weens wanbetaling van die huurkontrak. “Volgens die voormalige waarnemende munisipale bestuurder, Neo Maape, wat lid van die administrasiespan was, het Madibeng toe die betaling gestaak aangesien hulle nie die waarde en diens kry vir die buitensporige bedrag wat maandeliks betaal word nie. Daar is later wel ‘n ooreenkoms met die verskaffer aangegaan en die voertuie is weer in gebruik geneem. Die vloot is egter Saterdagoggend, 8 Augustus, weer geïmmobiliseer.”
Die munisipaliteit is Vrydagmiddag deur die department van samewerkende regering and tradisionele sake weer onder administrasie geplaas na die vorige administrasietydperk verstryk het.

Sien ook: Madibeng under administration, again – mayor reportedly wants to oppose it in court