Afriforum skenk waterkar vir brande, watertekorte

Die Afriforum-tak in Hartbeespoort het ‘n waterkar aan Hartbeespoort geskenk om met brande, asook watervoorsiening tydens watertekorte, te help.

Die waterkar, met ‘n 1 000 liter watertenk, is teen sowat R40 000 aangekoop en is reeds die afgelope naweek gebruik om hulp te verleen met ‘n brand wat die Schoemansville Oewerklub bedreig het.

“Die nuwe waterkar sal ook deur die tak gebruik word om water aan die gemeenskap te voorsien tydens ander noodgevalle. Die projek is hoofsaaklik geloods omdat die toestand van die infrastruktuur vir watervoorsiening in Hartbeespoort drasties verswak het. Dit lei daartoe dat die watertoevoer na die gemeenskap gereeld afgesny word sodat die infrastruktuur herstel kan word. Die waterkar gaan dus gebruik word om water te voorsien en om brande te blus,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder.

“Die sukses en volhoubaarheid van die projek maak staat op die gemeenskap se betrokkenheid. Ons doen daarom ‘n beroep op die gemeenskap in Hartbeespoort om AfriForum se tak te ondersteun. Mense met toegang tot boorgatwater kan veral help in noodsituasies.”