Die easy-kapeasy resepteboek is uit!

‘n Splinternuwe resepteboek uit eie bodem het sopas die lig gesien en dit is spesiaal gerig op “moeë, moedelose ma’s en pa’s en kranige koekedoortjies”.

Die resepteboek, Easy-Kapeasy, wat deur plaaslike skrywer, René van Zyl, saamgestel is met resepte uit die gemeenskap, is propvol maklike japtrap resepte, spesiaal vir oorlaaide ouers van woelige kinders. En die winste word gebruik vir die Kuierkidz Leersentrum vir breingestremde kinders se ‘forever home’.

“In vandag se tyd het niemand meer lus om lank voor die kospotte te staan nie. Almal van ons het iewers ‘n lekker maklike resep (ook randrekkers) wat net in jou laai of in jou kop rondlê. Ek het vir die gemeenskap gevra vir hul maklike staatmakers en Easy-Kapeasy het die lig gesien. Ek wil elkeen bedank wat bygedra het,” sê René.

Die boek vorm deel van ‘n fondsinsamelingsprojek om vir die Kuierkidz Leersentrum ‘n permanente woonplek te koop. Die boek kos ‘n donasie van R300. “Jy kan ook R1 000 betaal… ons gee nie om nie,” lag René.

Die boek is by Kuierkidz in Schubartstraat 58 in Melodie beskikbaar of belangstellendes kan René op WhatsApp 082 396 4100 of epos rene@skemerberg.co.za kontak.

“Die resepteboek word ook nou in Engels vertaal sodat almal dit kan gebruik.”
Kuierkidz is ‘n nie-winsgewende maatskappy en ‘n privaatsentrum vir kinders met spesiale behoeftes wat andersins nie in gewone skole opgeneem kan word nie. Daar word vir elke kind se individuele behoeftes voorsiening gemaak. Die sentrum is totaal afhanklik van die ouers en fondsinsameling.