Nog twee plaasaanvalle by Brits

Gewapende aanvallers het Saterdagaand op twee plase buite Brits toegeslaan en tydens een geval ‘n werker drie keer geskiet.


Tydens die eerste aanval ongeveer 20:00 Saterdagaand, het drie gewapende rowers die deur van plaaswerkers se huis in Roodekopjes oopgebreek. Een van die werkers is drie keer geskiet. Die rowers het die werkers van selfone en kontant beroof voor hulle gevlug het.
Volgens Leandre Spies van Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) is die werker twee keer in die maag en toe in die arm geskiet. “Hy was in ‘n kritieke toestand en HEMS het hom na die Brits Distrikshospitaal vervoer.”
‘n Paar uur later, ongeveer middernag, het ‘n groot groep rowers, gewapen met pangas ‘n natuurreservaat naby Veekraal gestorm. “Die groot groep het ses wooneenhede gelyk gestorm. Hulle het werkers se deure met pangas probeer oopslaan en deure by die ander huise probeer oopbreek. Die inwoners het egter onmiddellik alarm gemaak en sekuriteitsdienste, die gemeenskapspolisiëringsforum en polisie was vinnig op die toneel en die rowers het gevlug,” het Chris Degenaar van Tactical K9 gesê.
“Dié is ‘n nuwe modus operandi waar hulle verskeie plekke tegelykertyd aanval.”
Polisie in die Brits-sektor ondersoek die sake.