Duisende koekies vir Moonlight

’n Sestienjarige perderuiter van Hartbeespoort het die afgelope jaar honderde ure voor die stoof spandeer en duisende koekies gebak om vir haar geliefde volbloedperd se kankerbehandeling te betaal.

Foto: Shandre van der Westhuizen

Danté van den Berg, se 14-jarige volbloedperd, Moonlight, is in Junie 2019 met kanker gediagnoseer na ‘n maandelange stryd om ‘n wond aan haar been te behandel. “Dit was vir my verskriklik om te hoor sy het kanker. Ek is so lief vir Moonlight en het soveel drome gehad oor ons twee se skouspringloopbaan. Ek het gedink die kanker gaan versprei en ek kon net nie aanvaar dat sy dalk kan doodgaan nie.”

‘n Operasie is kort na die diagnose uitgevoer, maar was nie suksesvol om die kanker totaal te verwyder nie. “Ons het haar in Desember Onderstepoort toe gevat en die veeartse het gesê sy sal chemoterapie en laserbehandeling moet kry. Dit is verskriklik duur en ons het nie gedink ons kan dit bekostig nie. Ek het geweet ek moes ‘n plan maak, ek kon Moonlight nie verloor nie,” het Danté, ‘n Graad 11-leerling by Hoërskool Hartbeespoort, vertel.

En ‘n plan het sy gemaak. Daar is ‘n Facebook-blad, Moonlight’s Journey, geskep en Danté het begin kolwyntjies bak en verkoop. “Ek het nie gedink ek sal kan nie, maar ek kon genoeg verdien om vir Moonlight se eerste operasie en chemoterapie by Onderstepoort te betaal.”

Iemand het voorgestel dat sy eerder perdekoekies bak en vinnig het Danté aan plaaslike perde-eienaars verskaf. “Ek het eers by die huis gebak, maar toe gee ons oond in. Vovo Telo was so gaaf om in ‘n stadium hul kombuis vir ons te leen. Ek is so dankbaar. Ek moes tyd maak so tussen die skoolwerk en Moonlight se behandelings deur. Ek was elke dag by haar, vir so lank as wat ek kon. Ons het ‘n baie hegte band en sy het ‘n wonderlike geaardheid.”

Nou, na meer as ‘n jaar, is daar uiteindelik hoop. Na talle besoeke aan Onderstepoort, chemoterapie- en lasersessies, het veeartse twee weke gelede Moonlight vir die laaste keer behandel. “Hulle sê sy sal heeltemal herstel en dalk kan ons al oor twee maande begin skouspring. Ek kan nie beskryf hoe dankbaar ek is nie. Sy is so spesiaal. Selfs tydens al die besoeke aan Onderstepoort en die behandelings, was sy haar liefdevolle self en die span by Onderstepoort het die heeltyd gepraat oor hoe ‘n goeie perd sy is. Sy het ‘n unieke persoonlikheid.”

Nou sien Danté uit na ‘n blink toekoms saam met Moonlight. “Ons het nou ‘n spesiale band na die die lang, moeilike pad saam. Dit kan ons net nog beter laat saamwerk.”