Ifafi-Inwoners ruim self rommelstrooiing op

Na daar die afgelope maande gereeld vullis op ‘n oop stuk grond in Ifafi gestort is, het ‘n inwoner besluit genoeg is genoeg en dit self opgeruim.

“Almal ‘moun’ en ‘groan’ al die afgelope maande oor mense wat hul vullis hier op die hoek van Sven- en Lindastraat kom afgooi en daar word niks gedoen nie. Na die hoeveelste sosiale media plasing dié week, het ek net besluit dit is nou genoeg,” sê Nardus Mouton van Ifafi.

Nardus en sy tuinwerker, met ‘n bydrae van nog ‘n inwoner, het die afgelope week die huishoudelike vullis en tuinvullis, wat vermoedelik deur ander inwoners van die omgewing hier gestort is, weggery en die gebied weer netjies gemaak. “Ons moes drie vragte wegry. Ons sal in die komende week die res van Svenstraat, wat net so sleg lyk, skoonmaak. Ek sal ook borde oprig wat storting verbied.”

Inwoners wat wil help om die omgewing skoon te kry, kan Nardus kontak by 083 561 1409.