Kuierkidz verloor tuiste, help bou aan ‘n nuwe!

Die Kuierkidz Leersentrum vir breingestremde kinders moet voor die einde November hul huidige perseel verlaat en die gemeenskap se hulp word benodig om vir dié besondere sorgsentrum ‘n nuwe ‘tuiste” te skep.

Rene Coetzee, skoolhoof van Kuierkidz Leersentrum saam met Hildegard Schulte, een van die leerlinge by die sentrum.

Die sentrum het tot onlangs nog gedroom om deur middel van fondsinsamelingsprojekte die perseel waar hulle die afgelope vyf jaar tuis is, te koop, maar moes onlangs tot hul skok verneem dat dit nou verkoop is.

Volgens René (Veertjie) Coetzee, die hoof van die Kuierkidz leersentrum, gaan hulle nie paniekerig raak nie. “Ons sal, soos deur die jare heen, net vertrou dat God ‘n uitkoms sal bring,” sê Rene.

Sedertdien is planne gemaak en na persele gesoek, maar geld is skaars en perfekte opsies min. “Kuierkidz kry ook al hoe meer navrae om die sentrum in ‘n oorslaapfasiliteit te omskep. Die huidige perseel sou nie groot genoeg daarvoor wees nie, dus glo die beheerliggaam dat hulle nou, met baie gebed en genade, die kans kan aangryp en groter gaan. Die uiteindelike droom is om ‘n geskikte perseel te kan koop met groot genoeg kamers en fasiliteite vir die Kuierkidz se langtermynbehoeftes. ‘n Trust, Deo Volente, is intussen geskep om geld vir hierdie doel, ‘n ‘forever home’ in te samel.

Intussen het een van die ouers ‘n gebou op sy kleinhoewe begin omskep in ‘n tydelike kompleks met al die fasiliteite wat die Kuierkidz moet hê vir solank hulle dit benodig. Kuierkidz is ‘n nie-winsgewende maatskappy en ouers moet hard werk om die sentrum se deure oop te hou aangesien hulle geen staatshulp ontvang nie.

Die leeresentrum is in 2008 deur twee ouerpare begin, juis om vir hulle gestremde kinders ‘n veilige heenkome te kry, ‘n plek waar hulle kan sosialiseer, terapie kan kry en kan ontwikkel. Die skool het gegroei tot 21 kinders. “Finansies is maar altyd ‘n krisis met so ‘n nie-winsgewende sentrum, veral nou met die Covid-19 pandemie,” sê René.

Kuierkidz benodig tans die gemeenskap se hulp vir die bouprojek. Enige boumateriaal, stene, sement, kombuis-, badkamer- en ektrisiteitsbenodighede, deure en rame, vloerteëls, ensovoorts is welkom. Enige geldelike bydrae is welkom om die bouprojek voor einde November te kan voltooi.

Lede van die gemeenskap wat met die bouprojek wil help, kan dominee Anton van Zyl kontak by 0825711721. Ilze van Coller (079 886 9347) kan gekontak word oor fondsinsamelings en die Deo Volente Trust.

Doansies kan in die Kuierkidz-rekening Standardbank, rekeningnommer 015061108, verwysing: Boufonds, inbetaal word. E-pos bewys van betaling asseblief na kuierkidz101@gmail.com.

“Enige hulp word baie waardeer. Die beheerliggaam en ouers bedank al die Harties-mense wat oor die jare ‘n oop hart en hand vir die erg-gestremde kinders gehad het. Sonder hulle kon die sentrum nie voortbestaan nie, en dit sal moet voortgaan lank nadat die ouers nie meer daar is om vir hulle kinders te sorg nie.”