Hartbeespoort-inwoners stuur voer vir Vrystaat-boere

‘n Groep inwoners van Ifafi in Hartbeespoort het Woensdag die eerste trok vol voer vir boere in die Vrystaat afgesien na ‘n blitsige fondinsameling om boere wie se weiding deur die brande verwoes is, te help.

Twee vragte lusern is dié week deur Hartbeespoort-inwoners na die Vrystaat vir boere in nood gestuur. Op die foto is Johan Rabie, wat die trok geskenk het, en Kevin Bushby wat die lusern verskaf.

“Die reaksie het alle verwagtinge oortref en ons sê dankie vir elke inwoner wat bygedra het,” sê Kobus van Zyl van Ifafi wat die fondsinsameling Vrydag begin het. “Ek het via WhatsApp-groepe ‘n versoek uitgestuur vir bydraes om die boere te help met voer. ‘n Inwoner het onmiddellik sy trok beskikbaar gestel om die lusern na die Vrystaat te vervoer en die donasies het begin instroom. Die oogmerk was om een vrag van 400 bale te stuur, maar teen Sondagaand kon ons reeds 800 bale aankoop. Ons sal nou ‘n tweede vrag daarheen kan stuur.”

Die eerste twee vragte het dié week na Boshoff vertrek om voer vir wild te verskaf. Baie boere het al hul weiding verloor. “Ek wil baie dankie sê vir almal wat bygedra het. Ons wil nou nog geld insamel vir ‘n derde vrag. Een vrag lusern kos R26 000, plus R4 000 vir diesel om dit af te lewer. Miskien is daar ook inwoners met bakkies wat bereid is om ons met aflewering aan die onderskeie boere te help.”

Harties Angels, soos die fondsinsameling nou bekend staan, werk saam met die Vrystaatse landbou-unie om boere in nood te identifiseer.

Inwoners wat belangstel om ‘n bydrae te maak om ‘n derde vrag moontlik te maak, kan Kobus kontak by 082 453 3016. Een baal lusern kos R65 en word by ‘n boer in Brits gekoop. Donasies kan inbetaal word by ABSA rekeningnommer 9268935826. Gebruik jou selnommer en “Fire” as verwysing.