Vrou baklei met besem, tuinstoele om man van aanvaller te red

Basie (65) en Marleen Niemandt (60)

“Ek het net geweet ek moet nou baklei, my man was al soveel keer met die mes gesteek, dit was of hy of my man.”

So vertel Marleen Niemandt (60) van Brits na sy Saterdagaand met ‘n besem en tuinstoele teen ‘n aanvaller baklei het wat die egpaar by hul huis net buite Brits oorval het. Haar man, Basie (65), is ernstig beseer na hy veelvuldige messsteke opgedoen het.

Basie was ongeveer 19:00 buite om die hek toe te sluit toe hy deur ‘n man met ‘n mes aangeval is. Ek het hom skielik hoor skree, ek kon nie hoor wat hy sê nie en is na buite om te gaan kyk en toe sien ek die man met die mes teen Basie se keel. Hy het Basie in die rigting van die huis gedwing en ‘n worsteling het ontstaan. Die man het Basie met die mes  steek. Ek het ‘n besem gegryp en hom begin slaan. Die besem het versplinter en toe gryp ek ‘n tuinstoel. Die man het herhaaldelik gesê hy gaan my doodmaak. Ek weet nie waar ek die krag vandaan gekry het nie, maar ek het die man net aanhou slaan met die tuinstoel. Die Here het my gehelp. Die man het Basie voortdurend met die mes gesteek en ek het net geweet, ek moet aanhou tot Basie los is.”

In ‘n stadium het Marleen daarin geslaag om die paniekknoppie in die hande te kry en dit te druk. Sy kon Basie in die huis kry en die aanvaller het gevlug. “Hy het verskriklik gebloei. Ek het geweet hy moet onmiddellik by die hospitaal kom. Ek was angsbevange, ek moes die motor uit die motorhuis kry en ek het nie geweet of die aanvaller nog in die erf was nie.”

Marleen het die motor gaan haal en met Basie na die hospitaal in Brits gejaag. Hy was in ’n bedenklike toestand. “Hy het messteke oor sy hele lyf en kop. Ek is net dankbaar dat ek hom betyds by die hospital kon kry.” Marleen het ‘n ligte snywond op die arm opgedoen. Basie is steeds in die hoësorgeenheid by Brits Mediclinic.

Polisiewoordvoerder, Maria Nkabinde, het gesê die Brits polisie ondersoek ‘n saak van betreding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.