500 km te perd vir plaasmoorde

Twee mans het Maandag die 500 km langpad na Bloemfontein vanaf Beestekraal by Brits te perd aangepad ter bewusmaking van plaasmoorde.

Gideon van Tonder en Patrick Dawid het vroegoggend, gewapen met tent en kamptoerusting, op hul perde, Banjo en Spokie, vanaf Beestekraal weggespring en sal op 16 Desember in Bloemfontein arriveer.

“Ons albei werk met perde en wou ook bydra om meer aandag op toenemende plaasmoorde te vestig,” sê Gideon, ‘n wildvanger van Hartbeespoort. “En dit is gepas om dit te perd te doen. Die perd is ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se geskiedenis.”

Die twee mans sal die volgende maand in die saal spandeer en beoog om tussen 30 en 40 kilometer per dag te ry. “Ons sal elke vierde dag êrens spandeer om die perde geleentheid te gee om uit te rus. Ons sal saans by mense wat ons ken oornag, of sommer so langs die roete kamp.”