Sanger stel nuwe album in Hartbeespoort bekend

Opkomende sanger, Theo Nel, het verlede naweek sy splinternuwe album ‘Is jy reg? ‘ by die V8 Roadhouse in Hartbeespoort bekend gestel. Sy eerste musiekvideo ,Boombox, saam met Vincent Gordon, sal eersdaags op televisie gesien word.

Theo Nel

Theo, wat reeds die afgelope 10 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf bedrywig is, spog met 17 liedjies op sy nuutste album. Die musiekvideo is een van die snitte op sy album. “Ek glo dat die publiek die liedjie gaan geniet, omdat dit ‘n lekker kuier-atmosfeer skep en sal aanklank vind by oud en jonk.”

Hy sê hy wou van kleinsaf mense vermaak en wil deur sy musiek, positiewe lirieke en unieke popstem ander inspireer. Hy wil eersdaags terugkeer na Brits en Hartbeespoort vir nog optredes.