Motorkapers loop hulle teen buurtwag vas

Twee motorkapers is Donderdagmiddag deur buurtwaglede en die polisie vasgestrek na hulle ‘n man en ‘n vrou op die R513 na Damdoryn gekaap, aangerand en beroof het.

 ‘n Vrou en haar swaer het Woensdagoggend ongeveer 10:00 met ‘n Wit Audi A4 langs die pad naby Mount Amanzi gestop toe hulle deur agt mans, gewapen met messe, oorval is. Hulle is vir sowat drie ure aangehou en aangerand. Die rowers het R4 000 van die twee geroof en hulle toe gedwing om die vrou se man te bel en die rowers het ‘n losprys geëis.

“Die vrou se man het ‘n motoropsporingsmaatskappy gekontak en gevra om die motor op te spoor. Afriforum-buurtwag is ongeveer 13:00 gekontak na die opsporingsmaatskappy die voertuig in die omgewing opgespoor het, maar nie die presiese ligging kon vind nie,” het Danie Fourie, ‘n lid van die buurtwag gesê. ‘n Aantal lede van die buurtwag is na die toneel en die Audi is in ‘n vrugteboord gevind. Drie verdagtes in die motor het uitgespring en te voet gevlug.

Lede van die buurtwag het die vrou en haar swaer in die bosse gevind. Albei was aangerand en die Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) en die polisie is na die toneel ontbied. “Kort daarna het  die vrou se man op die toneel opgedaag. Die rowers het hom op die toneel gekontak en nog geld geëis, nie wetend dat die slagoffers reeds gevind is nie. Hy het ‘n selfoonopsporing-toep op sy foon, maar die rowers sou die datafunksie op die selfoon, wat hulle tydens die roof gesteel het, moes aansit. Ons het vir hom gesê hy moet hulle meedeel dat hy slegs die oorplasing kan doen as die datafunksie aktief is en hulle ‘n kode kan ontvang. Die rowers het dit gedoen en ons kon onmiddellik met die toep sien dat hulle in Koöperasielaan in Brits was.”

Lede van Afriforum en die swaer is na die ligging en die swaer het twee van die verdagtes by ‘n kroeg sien sit. ‘n Polisievoertuig was in die straat daar naby parkeer en Danie het die polisielede se hulp ingeroep. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem.