Brits se drinkwater bevat lood, nitrate

Brits se drinkwater is nie skoon nie, en die rioolsuiweringsaanlegte voldoen nie aan die voorgeskrewe mikrobiologiese standaarde nie, het Afriforum se onlangse Blou- en Groendruppelverslag bevind.

Volgens die verslag bevat die drinkwater in Brits lood en onaanvaarbare hoeveelhede nitrate, en die rioolwateraanleg se E.coli-telling is meer as 1 000 dele per eenheid water, terwyl die voorgeskrewe vereistes verg dat dit nie meer as 50 is nie.

AfriForum het van Augustus tot Oktober 2020 verskeie dorpe in Noordwes se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal. “AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sê Alta Pretorius van AfriForum.

Dié projek was vanjaar belangriker as ooit weens die COVID-19-pandemie en navorsing wat toon dat dié virus in rioolstelsels opgespoor kan word, wat beteken dat ‘n mens brandpunte kan identifiseer. Dié uitslae dui daarop dat die volgende dorpe in die provinsie se drinkwater nie skoon is nie: Brits, Delareyville, Sannieshof en Stella.

AfriForum is besig met stappe om druk op munisipaliteite toe te pas om sodoende beter watergehalte te verseker.
Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen Brits se rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die voorgeskrewe mikrobiologiese standaarde nie.

“As die bewaarder van water kom die Departement van Water en Sanitasie nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. AfriForum versoek inwoners van Noordwes om aan dié organisasie die mandaat te gee om die gehalte van water voortdurend te moniteer.”