Van misdaad na stoute ouma-stories

Carla van der Spuy en uitgewer, Zalman Davis.

Die misdaadskrywer het “sag” geword. Dis hoe die bekende plaaslike skrywer van veral misdaad niefiksieboeke, Carla van der Spuy, deesdae deur vriende geterg word nadat sy pas haar eerste kinderboek Poppedonsie, bekendgestel het.

“Ja, as jy eers ‘n ouma is, verander jou uitkyk op die lewe. Jy wil hê die lewe moet mooi en vrolik en vriendelik wees. Jy is bereid om die grootste krater van jouself te maak net om jou kleinkinders te laat lag. Vandaar die boekie Poppedonsie, my troetelnaam vir my oudste kleinkind,” lag sy.

“My laaste misdaadboek Gangster, wat in Februarie aanstaande jaar bekendgestel gaan word, het my laat besef dat ek ‘n breek van die onderwêreld moet neem en dalk vir eers na die ligter kant van die lewe moet kyk. Ek het vir die tweede keer na ‘n misdaadboek weens fisieke en emosionele uitputting uitgebrand maar nou gaan dit weer voor die wind,” lag sy.

Dit is Carla se negende boek, maar vêr verwyderd van haar vorige misdaadboeke wat haar na die donker wêreld van tronke, geharde en wrede misdadigers en gepaardgaande emosies geneem het.

“My kleinkind was beslis my muse vir hierdie boek. Hoe opvoedkundig dit is, weet ek nie want die Ouma wat seker losweg op my karakter gebaseer is, is eintlik ‘n ramp. Sy jaag vreeslik aan elke keer as Mamma weg is en sy Poppedonsie moet oppas. Maar saam beleef hulle heelwat avonture. Poppedonsie is nog ‘n peuter in die boekies en ook die verteller. Sy kan nog nie praat nie, maar sien alles raak.

“Ouma glo mens leef net een keer en Poppedonsie en haar vet , lui kat Goggo wat nog nooit ‘n muis gevang het nie, kry roomys en cupcakes vir ontbyt. As Poppedonsie nie haar ertjies wil eet nie, meng Ouma dit met Smarties en Jelly Tots.

Ouma word gereeld stoute hoekie toe gestuur, maar sy word elke keer vergewe want sy en Poppedonsie is onafskeidbaar.

Al die eksemplare (die boek is deur Zalman Davis van Minimal Press uitgegee) is Saterdagoggend met die bekendstelling by Bargain Books in Village Mall uitverkoop en het net so vinnig soos die wyn en cupcakes waarmee dit gevier is, van die rakke af gevlieg. ‘n Tweede oplaag word nou gedruk, dus behoort dit voor Kersfees weer beskikbaar te wees.

Carla glo ‘n ouma se rol is om pret te wees en kreatief te dink. “Moenie vir kinders in boekies preek nie. Hulle hou van stoute kinders (en oumas) want nou kan hulle self hul stoute kant uitleef sonder om in die moeilikheid te kom, terwyl hulle hulself in die wonderwêreld van boeke inleef.”

Dis veel moeiliker om ‘n kinderboek as ‘n misdaadboek te skryf, sê sy. Kinders is eerlik en sal wegloop as ‘n storie hulle verveel. Jy moet hulle ook nooit ooit onderskat nie. “En toets jou manuskrip eers op jou kinders en kleinkinders en veral die oumas!”