Boer skiet terug toe rowers hom by hek oorval

Die aanvaller se koeëel het die hekpaal getref.

‘n Boer van Brits het teruggeskiet toe vier rowers hom Dinsdagaand by sy hek oorval en op hom geskiet het. Die rowers het hierna gevlug.

Pierre Schutte is ongeveer 23:00 by die hek van sy plaas deur vier rowers oorval toe hy ongeveer 23:00 na die plaas by Veekraal buite Brits teruggekeer het.

“Ek was by ‘n buurman waar verdagtes vroeër probeer inbreek het en het by die plaashek gestop, dit oopgemaak en deurgery, min wetens dat vier aanvallers in die bosse geskuil het,” het Pierre, ‘n lid van die Krokodil Gemeenskapsbeveiligingsgroep (KGBG)gesê.

Een van die rowers het met ‘n vuurwapen Pierre van agter bekruip, maar op die laaste oomblik het Pierre iets agter hom gehoor en omgedraai. “Die aanvaller het geskiet en die koëel het my met millimeters gemis en die hekpaal getref. Ek het my vuurwapen gegryp en teruggeskiet. Die vier mans het gevlug.”

Drie aanvallers, wat aan die buitekant van Pierre se plaasheining weggekruip het, het in die rigting van ‘n buurplaas gevlug. Die een wat op sy plaas vir hom gewag het na ‘n heining by die hek gesny is, het in die bosse op die plaas verdwyn. Die KGBG se reaksiespan en honde-eenheid was vinnig op die toneel en het die spore deur buurplase gevolg, maar die aanvallers het ontvlug.

“Ek is net dankbaar dat ek nie beseer is nie,” het Pierre gesê.
Die polisie was kort daarna op die toneel.