Brits seun wat gesin van waterdood red, spoor hulle na 33 jaar op

Drie-en-dertig jaar na ‘n jong seun van Brits sy lewe gewaag het om ‘n ma en haar drie kinders van ‘n gewisse waterdood uit ‘n kanaal by Brits te red, het hulle vir die eerste keer weer kontak gemaak na hulle jare lank na mekaar gesoek het.


Francis Cloete (49) was in 1988 ‘n 17-jarige seun toe Estelle Joubert, toe 24 jaar oud, en haar drie seuns, Tiaan (4), Wynand (2) en Gerhard (6 maande), se motor op ‘n draai in die Uitvalgrond-omgewing op die Sonoppad een Saterdagmiddag in 1988 onderstebo in die kanaal beland het. Die gesin was in die motor vasgekeer. Francis het die gesin een-vir-een uit die motor gered, en was in die proses byna self dood toe die motor op hom beland het. Na Estelle en haar kinders hospitaal toe geneem is, het Francis nie weer met hulle kontak gehad nie, tot die afgelope week, toe hy hulle deur middel van Facebook opgespoor het.
“Ons het op die kanaal gebly en my boetie was langs die kanaal toe die ongeluk gebeur het. Ek was toe ‘n lewensredder by die swembad in Brits en hy het huis toe gehardloop om my te kom haal. Toe ek by die kanaal kom, was daar net borrels en toe steek die agterkant van die kar ‘n entjie bo die water uit,” onthou hy.
Francis het in die water gespring. “Die baba het op die water gedryf, maar ek het aanvanklik gedink dit is ‘n pop en hom net op die wal neergesit. Ek kon die ander twee kinders by die oop agtervenster uittrek en het gesien hulle ma sit voor vas in die veiligheidsgordel. Ek is terug onder die water, maar kon nie by haar uitkom nie. Intussen het mense ‘n tou aan die voorwiele vasgemaak om die kar uit die water te probeer lig. Ek het daarin geslaag om van onder af die voorruit uit te slaan, maar toe kom die tou los en die kar val op my. In die proses het die windskerm my skouer oopgesny. Ek moes die veiligheidsgordel breek om haar los te kry.”
Francis, sy lewensredding-afrigter en later redakteur van ‘n Brits-koerant, Tallie Taljaard, sowel as Francis se pa, het mond-tot-mond asemhaling op die bewustelose gesin toegepas tot hulle bygekom het. “Estelle was seker 30 minute bewusteloos voor sy bygkom het. Ons het gedink die baba is dood,” vertel Francis. “Dit het 33 jaar gelede gebeur, maar dit het deur die jare by my gebly. Ek het steeds die letsel op my skouer en my vinger se senuwee is af, permanente herrinering aan daadie dag. Ek het dikwels aan die gesin gedink en gewonder wat van hulle geword het. Dié gebeurtenis het my lewe verander. Ek het ‘n lewensredder op die kus geword en ‘n pastoor. Ek wou mense help. Ek het jare gelede probeer om die gesin op te spoor, maar kon nie. Verlede Saterdag toe besluit ek om op ‘n Brits Facebook-groep te vra en dieselfde naweek toe kry ek hulle!” Francis woon nou in Randfontein en die Jouberts in Meyerton.

Estelle Joubert en Francis Cloete
Die toneel waar die ongeluk plaasgevind het.

Estelle is verheug dat hulle daarin kon slaag om kontak te maak. Ook sy het kort-kort deur die jare na die brawe seun gesoek wat hul lewens gered het, maar sy het nie sy naam geken nie. “Daar het nie ‘n dag in my lewe verbygegaan dat ek nie aan die ongeluk gedink het nie. As dit nie vir hom was nie, het nie een van ons gelewe nie, en ek kon nog nooit dankie sê nie,” sê sy.
“Ons het om ‘n draai op die grondpad gekom en daar was ‘n sandbank en die volgende oomblik toe ‘flip’ die kar. Ek herleef weer hoe ek onderstebo in die veiligheidgordel vasgesit het. Ek kon dit net nie loskry nie. Ek het na agter gevoel vir my kinders. Toe ek besef ek kan nie loskom nie, het ek vir God gesê, dit is reg as hy my vat, maar Hy moet asseblief net my kinders se lewens spaar. En toe voel ek ‘n harige arm en ek weet dit is ‘n groot mens en ek verloor my bewussyn. Toe ek bykom, was ek net bewus van die water wat soos ‘n brandslang uit my spuit.”
Estelle was vir twee weke in die intensiewesorgeenheid. Ook die drie kleintjies is vir ‘n geruime tyd in die hospitaal gehou vir waarneming. “Daar was alge in my longe en die dokters moes spook om my longe skoon te kry. Nie een van ons het komplikasies opgedoen nie, ten spyte van die feit dat ons almal sonder suurstof was en die vrot water gesluk het.”
“Daardie gebeurtenis het ons almal se lewens verander. Ek waardeer die kleinste dingetjie in die lewe, en net om te kan asemhaal is ‘n voorreg. Dit is werklik ‘n wonderwerk dat ons almal ongeskonde met ons lewens kon voortgaan, en ek het my kinders deur hul lewens hieraan herinner. Vandag is ek die trotse ouma van kleinkinders en ek vertel ook vir hulle hiervan en hoe om die lewe te waardeer.”
Francis en die Joubert-familie sien nou uit daarna om mekaar hopelik in die volgende week te ontmoet. En uiteindelik kan die Jouberts hul lewensredder persoonlik bedank.