Elsabe omskep tuin in kunswerk

‘n Uitsig in ‘n betonoerwoud is dikwels net dít… beton. ‘n Hartbeespoort-inwoner in ‘n landgoed wou graag iets meer as net ‘n betonmuur sien as sy na buite kyk en het die hulp van die bekende Hartbeespoort-kunstenaar, Elsabe Pienaar ingeroep. En pragtige muurskilderye het haar tuin in ‘n japtrap in ‘n kunswerk omskep.

“Die opdrag om ‘n muurskildery vir ‘n kliënt te doen is enige kunstenaar se droom. Dit was vir my ‘n wonderlike uitdaging om die kliënt se tuin in ‘n ander wêreld te verander,” sê Elsabe, wat twee weke na hartelus met kwas en kleur aan die projek gewerk het.

“My kliënt het vanuit haar eetkamer op ‘n grensmuur gekyk en besluit hier kort iets kreatief en buitegewoon. Na ek en sy koppe bymekaar gesit het en idees uitgeruil is, het ek met sketse vir die voorlegging begin,” sê sy.

Die skilderwerk het ongeveer 14 dae geneem en een van Elsabe se kunsstudente, Indica Strydom, haar man Alwyn en werker Justice het soms kom hand bysit. Temas soos die interieur van ‘n sit- en ‘n kuierhoekie is op van die muurpanele geskilder. By die onthaalarea is tonele van Hartbeespoortdam en omgewing uitgebeeld.

“Die grootste uitdaging was die warm Desember-hitte wat veroorsaak het dat die verf vinnig droog word.

“Vir enige kunstenaar is dit ‘n groot uitdaging om so iets groots te skep. Gelukkig bly die beginsels van kuns vir enige grootte werk dieselfde. Ek het deurgaans diepte geskep deur met verdwyningspunte te werk. Koue kleure gee ook diepte terwyl warm kleure na vore kom. Fokuspunte is op elke paneel geskep en met kleurvlakke word die oog gelei van een paneel na volgende.”

Vincent van Gogh se bekende ‘Starry night’-kunswerk vorm ook deel van die geskilderde interieur. “Dit was ‘n heerlike projek en ek het my gate uit geniet.”

Elsabé het ook muurpapier aan Leanna verskaf en geplak in haar hoofslaapkamer en trapruimte.

Buiten ‘n befaamde skilder en kunsonderwyser, is Elsabe ook ‘n gesogte interieurontwerper wat bekend is vir haar unieke muurpapierontwerpe. Hierdie talent en haar passie daarvoor het haar al opdragte by landmerke soos die Paleis van Justisie, die Herbert Baker-museum en die Presidensie besorg.
Kontak Elsabé by 082 416 3053.