Van bakboord na stuurboord om Einstein te vang

Einstein, ‘n vier-maande-oue Macaw papegaai, het Vrydag en Saterdag die Schoemansville-gemeenskap in oproer gehad, met sommige wat bome en torings geklim het om die wegloop-voël terug by sy huis te kry. Na ‘n nat nag in ‘n boom, hommeltuie wat hom gevolg het, en mense wat in bome rondklouter, is Einstein uiteindelik 24 uur later veilig aan sy eienaars terugbesorg.

Einstein, die geliefde troeteldier van Surika Steyn, het Vrydagmiddag ewe kordaat vir die eerste keer uit die huis gevlieg. “Hy is deel van ons gesin en loop in die huis rond asof hy dit besit. Hy klim op alles en my twee Spaniels is bang vir hom en laat spaander as hy ‘n vertrek binnekom. Hy eet nog pap en Vrydagmiddag so 14:30 het hy op die kombuistafel rondgeloop terwyl hy wag vir sy pap om koud te word sodat ek hom kon voer. Die volgende oomblik toe maak hy so draai en vlieg by die agterdeur uit. Ek was verstom. Sy vlerke is vroeg in Januarie gesny, maar aangesien hy nog eintlik ‘n baba is kon hul nie al die vere knip nie. Van die vere aan die einde van die vlerke was nog bloedpenne. Ons was verseker dat hy net ‘n kort entjie afwaarts in die huis sou kon vlieg,” vertel Surika.
Chaos het losgebars. “Ek en my huishulp het soos mal mense agter hom aangehardloop en roep.” Einstein was egter min gepla met sy histeriese mense op die grond, hy het blouer wievelde ontdek!

“Verskeie mense uit die gemeenskap het kom help. Hy het Vrydagmiddag van boom tot boom gevlieg en selfs op die laerskool se spreiligte gesit en die petalje op die grond bekyk. Maar toe word dit donker, met Einstein wat in ‘n hoë palmboom sit. “Dit het begin reën. Ek het ‘n dak gekry vanwaar ek hom kon sien en hy vir my. “Ek het met hom bly praat waarop hy my geantwoord het, maar hy was eenvoudig net te bang om te vlieg. Teen 23:00 moes ons huis toe, dit was verskriklik, maar Brian van Makalani was by ons op die dak en het gesê Einstein sal nie vlieg of skuif in die donker nie. Vrydagnag was een van die langste nagte wat ek nog onderrvind het. Ons het nie geslaap nie. Dit voel soos ’n kind….en ‘n mens weet dis koud en reënerig, hy moet honger en bang wees.”

Saterdagoggend 05:00 was Surika en haar man, Francois, terug op die dak, maar weereens het Einstein besluit om vlerke te strek. Na ‘n hele dag van rondhardloop, hommeltuie wat hom soek en Busy Bee Landscaping wat met hul leer en bakkie agter die papegaai aangery het, is Einstein uiteindelik 14:00 Saterdagmiddag in Maraisstraat gekry. “Hy was duidelik moeg en seker honger. Hierdie keer was die boom waarin hy was nie so hoog nie en Jerry van Busy Bee het die boom geklim en Einstein beetgekry. Ek het my baba veilig teruggekry!”

Surika bedank al die mense wat vir twee dae help soek het. “Ons waardeer dit verskriklik, en spesiale dank aan Jerry, die held, wat soveel bome en ‘n toring geklim het om Einstein te red.”
Nodeloos om te sê Einstein gaan beslis van sy vere verloor!