Skole open – Meerhofskool verspoel in riool

Die Meerhofskool in Hartbeespoort verspoel in die riool en ten spyte daarvan dat die skool die afgelope twee weke probeer om die Madibeng munisipaliteit sover te kry om die pompstasie op die perseel te kom regmaak, is niks gedoen nie.

“Die skole open Maandag en ons kan nie toelaat dat ons kinders, wat reeds gesondheidsprobleme het, in sulke omstandighede terugkom skool toe nie,” sê Pieter Viljoen, voorsitter van die skool se beheerraad.

Die skool sukkel al jare lank met die probleem. Die pompstasie gee gereeld probleme en dan stroom riool vrylik oor die skoolterrein. Die skool moes al afleikanale voor klaskamers bou om te voorkom dat die riool die klasse instroom.

“Ons hande is afgekap. Die hek van die pompstasie is gesluit en ons kan niks doen behalwe om by die munisipaliteit te pleit om te help nie.’

Volgens DA-raadslid, Erna Rossouw, het sy die probleem die afgelope twee weke herhaaldelik onder die munisipaliteit se aandag gebring, met geen reaksie.

Kormorant het dié week ‘n dringende versoek aan die waarnemende munisipale bestuurder, Noko Seanego, gerig om die situasie aan te spreek. Ons wag vir terugvoer.