Jong man koelbloedig in die straat in Brits doodgesteek

“Dit moes ek gewees het wat dood is, die man het na my gesteek en toe ruk Dieter my terug en die mes tref hom…”

Dieter Grabie (22) en Chris Malan (19)


So het Chris Malan (19) vertel na hy en sy vriend, Dieter Grabie (22), Vrydagaand, 12 Februarie, deur vyf mans in die straat in Brits aangeval is en Dieter koelbloedig met ‘n mes doodgesteek is.
Dieter en Chris was ongeveer 22:00 op pad huis toe van die krieketklub af toe hulle in Van Deventerstraat in Brits oorval is.
“Ons het verby die parkie geloop toe ek iets in die parkie sien beweeg. Ek het vir Dieter gesê hy moet sy foon wegsit en ons het vinnig aangestap. Die volgende oomblik toe bespring vyf mans ons. Een het met ‘n mes na my gesteek en Dieter het my gegryp en na agter getrek, en toe tref die mes hom in die bors. Ek het geweet ek moet hom wegkry van die mans af en ek het hom gegryp en begin hardloop. Ek het nie eers gekyk of die mans ons volg nie. Na ‘n paar meter, het hy inmekaar gesak en ek het hom opgetel en na die vulstasie daar naby gehardloop.”


Petroljoggies het hulle te hulp gesnel en die vulstasie se paniekknoppie gedruk. MonitorNet, Afriforum-buurtwaglede en die ambulans was kort daarna op die toneel en Dieter is na die hospitaal vervoer. Hy is egter in die vroeë oggendure Saterdag oorlede.
“Ons was soos broers, Dieter het my lewe gered. Dit was ‘n sinnelose aanval. Hulle het niks by ons gevat nie. Dit was net moord,” het Chris gesê.