81 jaar oud, en sy wil nie aftree nie

Die hande is vol rimpels, maar dit is nog net so bedrewe en versigtig wanneer sy die saadjies en stiggies liefdevol in die grond druk. En haar glimlag is breed as sy vertel hoe sy uitsien na die eerste teken van lewe wat binnekort sy kop bokant die grond sal uitsteek.

Johanna Manganye

Johanna Manganye is geen gewone vrou nie. Op 81 werk sy nog voldag by ‘n kwekery in Hartbeespoort waar sy verantwoordelik is vir groei van sekere variëteite van plante. Sy loop steeds kilometers per dag na die verskillende areas om sade te versamel en het geen probleem om nog hurkend of geboë na haar plante om te sien nie.

Van aftree wou sy niks weet toe sy sowat 20 jaar gelede deur haar werkgewer ingelig is dat sy nou maar op pensioen kan gaan nie. “Wat sou ek doen as ek by die huis moes sit. Ek is lief vir my werk, en die plante, en my ‘ma en pa’ (haar werkgewers),” sê sy.

Dié merkwaardige vrou was in die afgelope 60 jaar se diens by die Heuer Kwekery nie ‘n dag van die werk afwesig nie, behalwe met die geboortes van haar agt kinders, toe sy elke keer net ‘n maand kraamverlof geneem het. “Ek het met elkeen se geboorte by die kwekery in kraam gegaan. As die pyne gekom het, is ek gou huis toe waar ek die baba gekry het. Ek was nog nooit hospitaal toe vir ‘n geboorte nie,” spog sy.

“Ek was nog nooit siek nie. Ek was een keer by die dokter toe ek uit ‘n taxi geval en my been seergemaak het. Die dokter het my ‘n inspuiting gegee. Al pille wat ek drink is vir bloeddruk, en al hoekom dit gebeur het, was omdat my dogter doodgebrand het.” Sy is vir ‘n oomblik te bewoë om te praat. Na al die jare lê die pyn nog vlak. “My hart was gebreek en toe kom die bloeddruk.”

Sy het nie ‘n maklike lewe gehad nie. Johanna is in 1940 as n Nuwejaarsbaba gebore en het as jong kind saam met haar ouers na Noordwes verhuis. Sy was net tot Graad 2 in die skool toe haar pa oorlede is en haar ma nie langer die skoolfonds kon bekostig nie. Sy het haar egter self leer lees en skryf. Sy het as 21-jarige meisie in 1961 by Heuer Kwekery begin werk. Toe haar man in 1982 oorlede is, het sy agt kinders gehad waarna sy moes omsien. En toe sterf haar dogter tragies in ‘n huisbrand en Johanna moes ma speel vir haar vier kleinkinders ook.

”Ja, dit was nie ‘n maklike lewe nie, maar gelukkig het my wergewers my ook bygestaan.” Die terugslae het dié vrou nie gekeer nie. Sy het deur die jare vir haar en haar kinders ‘n huis in Modderspruit gebou en hulle suksesvol deur die skool gekry. “En Kersfees het ek hulle almal by my gehad en ek kon vir elkeen ‘n kombers en ‘n lekker Kersete gee. Dit was goed,” sê sy.

As ek haar vra hoe sy dit nog regkry om nog so vinnig, fier en regop, te loop en die daaglikse fisiese take te verrig, lag sy lekker. “Ek drink my tee wat ek by die kerk kry, ek eet nie vleis nie – net pap en groente -, en ek het nog nooit gerook, gesnuif of gedrink nie. En ek werk lekker. Ek is lief vir die plante en dit is lekker om te sien hoe hulle groei.”

Naweke gaan sy huis toe en dan werk sy verder. “Ek het ‘n groentetuin by die huis waarvan ons eet en elke naweek moet ek skoffel en in die huis werk. As daar geverf moet word, doen ek dit self. Ek kan nog alles doen,” lag sy.
Nou wanneer gaan sy eendag aftree en rus? Sy trek skouers op… “Miskien volgende jaar, ek weet nie. Ek begin nou moeg raak, ek sal maar sien. Maar ek is nog lief vir my werk en as ek aftree sal ek nie net sit nie, ek sal dan daar werk. Daar is nog baie om te doen.”