Vyf vlugtende plaasaanvallers by Brits gevang

Vyf vlugtende plaasaanvallers is Sondagoggend deur die polisie, in samewerking met plaaslike sekuriteitsgroepe, naby Brits aangekeer. ‘n Aantal vuurwapens is onder die voertuig gevind waar dit aan die onderstel vasgebind was.

Die vuurwapens is onder die voertuig vasgebind.


Die aanvallers was op vlug na hulle die vorige aand ‘n plaas by Thabazimbi aangeval het.
Volgens Janus Fourie, voorsitter van die Krokodil Gemeenskapsbeveiligingsgroep (KGBG) is polisie en veiligheidstrukture in ander gebiede ongeveer 06:00 Sondagoggend in kennis gestel dat die rowers se voertuig op pad Brits toe opgemerk is.
“Die polisie, saam met die KGBG, Heritage Protection Group (HPG)en PPS Sekuriteit, het die verdagtes by Beestekraal ingewag waar hulle na ‘n jaagtog afgetrek is. Vuurwapens, elektroniese toerusting en klere wat geroof is, is in die voertuig gevind,” het Fourie gesê.
Die vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 27 en 34, is op die toneel in hegtenis geneem.
Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Sam Tselanyane, was vier gewere onder die bakkie vasgebind en nog ‘n rewolwer en ammunisie is in die voertuig gevind.
Die vyf verdagtes verskyn Dinsdag, 2 Maart, in die Brits-landdroshof op aanklagte van besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Die polisie-ondersoek duur voort.

SIEN OOK: Fleeing thieves hit tree after high speed car chase and shootout