Geen uitbraak van breinvliesontsteking in Brits nie

Gerugte oor ‘n uitbraak van hoogs-aansteeklike virale breinvliesonsteking in kleuterskole in Brits,  wat sedert Donderdag sosiale media aan die gons het, is onwaar. ‘n Vyfjarige kind is wel met bakteriële breinvliesontsteking gediagnoseer en is tans in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.

Die gerugte van ‘n uitbraak van virale meningitis het Donderdag soos ‘n veldbrand in Brits en Hartbeespoort versprei na ‘n kleuterskool in Brits sy deure gesluit het as voorsorgmaatreël na die kind breinvliesontsekingsimptome getoon het, en nog ‘n kind soortgelyke simptome ontwikkel het.

Die vyfjarige seuntjie is met bakteriële breinvliesontsteking gediagnoseer wat nie aansteeklik is nie. ‘n Tweede kleuter se uitslag vir dié siekte was negatief.

Volgens die hoof van die kleuterskool, Janie Scott, is die vyfjarige kritiek in die Eugene Marais Hospitaal. “Hy het ernstige breinskade opgedoen en is van masjiene, wat hom aan die lewe hou, afgehaal. Ons het die skool gesluit as voorsorgmaatreël en die moontlikheid van ‘n geval van virale meningitis by die gesondheidsdepartement aangemeld, maar dit is reeds van die department se lys verwyder na die uitslag van die toetse. Die ander kleuter se se uitslae wys sover dat die breinswelling nie deur ‘n infeksie veroorsaak is nie ,” het sy gesê.

“Wat wel so is, is dat twee kindertjies in ons nessie baie siek is en ons dink aan hierdie twee gesinne en bid vir krag.”

Die nuus, wat wyd op sosiale versprei is, het stertjies gekry and baie ouers op hol gejaag. “As gevolg van sosiale media moes die dokters en apteke in die dorp bontstaan en almal het nou een of ander vorm van medikasie in wat hopelik gaan help dat ons nêrens by die skole volgende week ‘n loopneus ens gaan hê nie. Ons hoop om al ons ander kleuters volgende week by skool te hê,” het sy in ‘n brief aan ouers geskryf.

In een stemboodskap, wat wyd versprei is, beveel ‘n vrou aan dat ouers onmiddelik ‘n pil vir breinvliesontsteking, wat R5 by ‘n sekere apteek kos, aanskaf om voorkomend op te tree.