Afriforum kry hommeltuig vir misdaadbekamping

Die Afriforum Hartbeespoort-tak het nou ‘n hommeltuig om bestaande buurtwagte en die polisie te help met misdaadbekamping.

Nelis Janse van Rensburg met die Afriforum-hommeltuig wat vir misdaadbekamping in Hartbeespoort gebruik word.

Twee Hartbeespoort inwoners het onlangs formele opleiding as hommeltuigvlieëniers ontvang en die hommeltuig sal gebruik om gemeenskapsveiligheid op te skerp, asook om samewerking met die plaaslike polisie te verbeter.

Dennis Webster (takvoorsitter) en Nelis Janse van Rensburg het as hommeltuigoperateurs gekwalifiseer. “Ons is baie dankbaar vir lede van die gemeenskap wat bereid is om hulle werk vir ’n week te los om hierdie opleiding te ontvang. Dit is werklik ’n opoffering wat gemaak word deur mense om hulle gemeenskap veiliger te maak vir almal wat daar woon,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Die hommeltuig word reeds gebruik om saans patrollies te vlieg. “Ons vlieg streng volgens wetgewing van Burgerlike Lugvaart en dit word as ‘n hulpbron vir die bestaande buurtwagpatrollies gebruik. Die hommeltuig het ook ‘n soeklig wat dikwels gebruik word. Lede van die gemeenskap moet hul dus nie bekommer as hulle die lig saans in die lug sien nie,” sê Nelis Janse van Rensburg.