140 jaar oud met ‘n nuwe baadjie

Laerskool Broederstroom is vanjaar 140 jaar oud en die skool vier dit met ‘n nuwe baadjie vir leerlinge en ‘n terugblik na ‘n interressante geskiedenis.

Broederstroom Laerskool is 140 en om dit te vier spog leerlinge met nuwe skooldrag.

Dié skooltjie is een van die oudste skole in Gauteng. Die eerste skooltjie is in 1881 op die plaas van Hercules Albertus Pretorius, bekend as oom Bart en broer van Andries Pretorius, geopen. Die skooltjie was in die solderkamer van sy woning en het later onder die gemeenskap bekend gestaan as die Solderkamerskool.

Dit was eintlik tot oom Bart se verdriet, want die lawaaierigheid en lastigheid van die kinders het vir hom en sy gesin te veel geword. Dit was veel erger as ‘n klomp rotte op ‘n plafon. In 1884 kon hy dit nie meer met die kinders op sy solder uithou nie en bou toe vir hulle ‘n entjie van sy huis af, ‘n geboutjie van steen, klip en klei. Hier het die klompie kinders van die omgewing skoolgegaan tot in 1899 toe die tweede Vryheidsoorlog uitgebreek het en die skooltjie moes sluit.

Eers in April 1906, kon die skool weer open, dié keer in ‘n woonhuis so kilometer van die Solderskool af. En toe word die Solderskool die Gordynskool na aanleiding van ‘n gordyn as afskorting tussen die woonhuis en die skoolgedeelte. Die onderwysdepartement het die boer R20 per maand betaal vir die huur van die lokaal.

In 1926 het die onderwysdepartment ‘n tweelokaalgebou opgerig en die skool het in 1927 daarheen verskuif.
In 1937 vind sentralisasie by die Transvaalse Onderwysdepartement plaas en Broederstroom se skool bly in die slag. Die deure is gesluit en kinders moes per bus na Roodewal en Elandsfontein gaan. Daar was groot ontevredenheid oor die sluiting van die skool en vir 10 jaar lank het ouers hul bes probeer om weer ‘n skool te kry. Die regering se skoolgebou is intussen gesloop en toe daar in 1947 weer ‘n skool oopmaak, is dit terug in die Gordynskool se perseel. Eers in 1954 kon ‘n nuwe tydelike twee-klaskamer gebou betrek word.

Uiteindelik in 1986, het die regering dit goedgedink om ‘n behoorlike skool hier te bou en in Januarie 1986 open die skool op die huidige perseel met 6 onderwysers en 103 leerlinge.

Ter viering van die skool se 140ste verjaarsdag, spog leerlinge vanjaar met nuwe skooluniforms. Laerskool Broederstroom is so deel van Hartbeespoort se geskiedenis as wat die dam is, en die skool is trots op sy kleurvolle deel van die omgewing se geskiedenis