Bou ‘n berg blikkieskos vir behoeftiges

Village Mall en die Hartbeespoort Brits Rotariërklub daag die Hartbeespoort-gemeenskap en besoekers uit om te help bou aan ‘n berg blikkieskos – ‘n ‘Mountain of Hope’ ten bate van liefdadigheid.

Help bou aan ‘n berg blikkieskos.

Dié projek het verlede naweek by Village Mall Hartbeespoort afgeskop. Volgens Ron Stirk, verteenwoordiger van die Rotariërklub van Hartbeespoort en Brits, hoop hulle om die grootste en hoogste blikkieskosberg in Afrika te bou.

“Die wêreldrekord behoort tans aan die studente van Chululongkorn Universiteit in Thailand, wat ‘n allemintige 247 580 blikkies kos gebruik het om ‘n berg van blikkieskos te bou. Dit sal wonderlik wees as ons soveel blikkieskos kan insamel. Ons daag graag elke inwoner, besigheidseienaar, leerder en besoeker uit om elk ‘n blikkie kos of 2 of 10 te skenk om die ‘Mountain of Hope’ te bou.”

Die ‘Mountain of Hope’ word in Village Mall gebou en donasiepunte sal regoor die sentrum beskikbaar wees. Pick ‘n Pay, een van die borge, sal ‘n donasiepunt in die winkel beskikbaar stel.

Die projek eindig op 29 Mei, waarna die blikkieskos aan behoeftiges in die Hartbeespoort-gemeenskap geskenk sal word.

Vir meer inligting en om betrokke te raak by die projek, kontak Village Mall by marketing@villagemall.co.za.