Gewonde plaaswerker baklei terug teen vermeende plaasaanvaller

‘n Ses-en-dertigjarige plaaswerker van Krokodil-Wes by Brits het steeds terugbaklei na hy deur ‘n vermeende plaasaanvaller geskiet is.

Morris Pashe is Donderdag ongeveer 12:00 deur ‘n verdagte deur die oor geskiet toe hy die man op die plaas opgemerk het. Hy het die aanvaller gegryp voor hy weer kon skiet.

Morris was op pad na ‘n buurplaas om ‘n boer te help toe hy ‘n verdagte man in die lang gras opgemerk het. “Die man het weer verdwyn en Morris het gaan ondersoek instel. Toe hy by die plek kom waar hy die verdagte gesien het, het die man skielik uit die gras opgespring en ‘n vuurwapen op Morris gerig. Hy het gesê hy gaan Morris doodskiet,” het Morris se werkgewer, Werner Claassen, gesê.

Morris het aan die aanvaller gesê hy moenie skiet nie, hy kan sy selfoon kry. Toe hy afbuk om die selfoon op die grond neer te sit, het die man geskiet. “Ten spyte van die feit dat hy gewond was, het Morris die man gegryp en hy kon daarin slaag om die vuurwapen uit sy hand te klap. Hy het die oorhand gekry en toe vlug die aanvaller. Morris het hom nog ‘n afstand gejaag toe hy lighoofdig geword het. Die koeël is deur sy oor en skrams teen sy kop verby,” het Werner gesê. “Die aanvaller het sy rugsak in die proses op die toneel agtergelaat. Ons het ‘n ba op die toneel. Die vermoede bestaan dat hy moontlik op pad was om iemand aan te val.”

Morris is deur ambulansdienste na die hospitaal vervoer en hy is in ‘n bevredigende toestand. Die polisie en Afriforum buurtwag was op die toneel. Die aanvaller is steeds op vrye voet.