Egpaar baklei verbete om gewapende rowers uit slaapkamer te hou

“Ons het met al ons krag teen die deur gebeur om hulle buite te hou terwyl hulle die vuurwapens deur die gat in die deur rondgeswaai het… en ek het hardop bly bid.”


So het Beanet Duvenage (32) vertel na sy en haar man, Jaco (33), en hul vierjarige dogtertjie Vrydagoggend in die vroeë oggendure in hul huis op ‘n plaas naby Brits oorval is.
Die gesin het kort voor 02:00 wakker geword toe hul hond begin blaf het. “Jaco het opgestaan om ondersoek in te stel, maar kon niks sien nie. Ons stoeplig was egter af. Ons was net terug in die bed toe die hond weer blaf. Toe Jaco weer gaan kyk, was daar twee mans voor die venster. Hy het vir hulle geskree en hulle het die vensters gebreek en toe die diefwering. Jaco het probeer keer, maar toe hy die vuurwapens sien, is ons terug na die slaapkamer en het die deur gesluit,”” het Beanet aan Kormorant vertel.
Die aanvallers het in die huis ingekom en die slaapkamerdeur probeer afbreek. Beanet kon daarin slaag om haar ouers en Afriforum-buurtwag te bel voor die aanvallers daarin geslaag het om ‘n gat in die deur te breek. Hulle het die vuurwapens, ‘n geweer en pistool, daardeur gedruk. “Ek en Jaco het met al ons krag teen die deur gebeur om hulle te verhoed om in die kamer in te kom. Ek het hardop gebid. Jaco het hulle gevra wat hulle soek en toe sê hulle in Engels hulle soek selfone. Ons het die selfone vir hulle gegee. Ek het na Engels oorgeslaan and aangehou om hardop te bid. Een van die mans het sy vuurwapen teen my kop gedruk, maar ons het met alles wat ons het die deur toegehou. My dogtertjie het tjoepstil agter Jaco gestaan.”
Terwyl hulle verbete met die aanvallers gespook het om die deur toe te hou, het hulp opgedaag. Die twee mans het die ligte van ‘n voertuig gesien en met die egpaar se selfone en ‘n televisie ingevlug. Afriforum se Brits-buurtwag was op die toneel en het die aanvallers se spore in die lande gevolg. Volgens die spore het dit geblyk dat daar nog verdagtes in die lande was.
“Ons is gelukkig ongedeerd. Ek weet nie of dit my hardop-gebed was nie, maar hulle het die minimum gesê en ons nie gedreig nie. Gelukkig het ons dogtertjie by ons in die bed geslaap en sy het nie gehuil of geskree nie, net aan haar pappa se broek vasgeklou. Sy is getraumatiseerd en het nou nagmerries.”
Die aanvallers is steeds op vrye voet en die polisie ondersoek die aanval.