Baba dood, vier beseer toe sleepwa loskom

‘n Vier-maande-oue baba is dood, en nog vier mense beseer toe ‘n sleepwa Vrydagmiddag in Van der Hoffweg van ‘n trokkie losgekom het en voetgangers en ‘n fietsryer getref het.

Die sleepwa het kort voor 13:00 van die trokkie losgekom en die ma en haar baba, sowel as haar vriendin en dié se vyfjarige dogtertjie, getref. Die baba is vermoedelik opslag dood.

Die sleepwa het ook ‘n fietsryer getref en die fiets het aan die sleepwa vasgehaak en is saamgesleep.

Paramedici van Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) en die provinsiale ambulansdienste het mense op die toneel behandel voor hulle na hospitale in Brits vervoer is.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.