Boesemvriendinne brei vir borskanker

Helpende Hand en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) snoer kragte saam om vir vroue wat hul borste weens borskanker verloor het, borsprosteses te brei.

Die gebreide proteses

Die prosteses word gebrei om ‘n verskil te maak in die lewens van vroue met borskanker wat nie silikoonprosteses of borsrekonstruksie kan bekostig nie.

Gerda Strauss, hoof van dienste by Kansa, sê hulle is trots om deur hierdie “wonderlike inisiatief” met Helpende Hand ‘n vennootskap te vorm om pasiënte met borskanker sodoende te ondersteun.

“Elke prostese wat ons aan ‘n borskankerpasiënt skenk, word opreg waardeer en herstel hierdie vrouens se waardigheid,” sê Strauss.

“Die doel van Helpende Hand se jaarlikse Breinaald-projek is om mense se liefde en vermoë om te brei en te hekel, aan te wend om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. In 2020 het ons vroetelmoue vir mense met demensie of Alzheimers se siekte gemaak . In samewerking met Kansa en die FroueVonds, pak ons vanjaar die Brei-vir-Kansa-projek onder die vaandel van #Boesemvriendinne aan,” sê Benette Welman, projekorganiseerder by Solidariteit

Die totale koste van die pakket om een prostese te brei, is R60. Dit bevat sintetiese wol, vullingsmateriaal asook die patroon om die prostese te brei of te hekel. Hierdie pakkies word dan versprei na enige vrywilliger of lid van die publiek wat saam wil brei. Die pakkies is plaaslik beskikbaar by Ons Winkel winkels in Melodie, Broederstroom en Brits.

Die publiek kan ook betrokke raak deur finansieel by te dra tot die projek en Helpende Hand in staat te stel om die pakkette aan te koop en te versprei.

Vir meer inligting oor die projek of om saam te brei of te hekel, besoek een van die Ons Winkel-winkels of stuur ’n e-pos na frouevonds@helpendehand.co.za.

Helpend Hand gaan in Oktober, wat ook Borskankermaand is, die prosteses by Kansa-kantore landwyd oorhandig om dit aan vroue te versprei wat dit benodig.